Stormers lag laaste
2011-05-22 10:00
Johannesburg - Ná jare se gesukkel is die Stormers sekerlik gewoond aan die hoon van spotters, maar Vrydagoggend in Auckland het hulle die tipe vertoning gelewer wat sê as jy vir hulle wil lag, moet jy gou-gou klaar lag.
Soos dit die Bulls ’n paar seisoene gevat het om hulself ernstig op te neem, so ook hul Kaapse eweknieë, maar dié het nietemin Vrydag met hul oorwinning van 28-26 getoon dat niemand durf twyfel aan die hardheid van hul neute nie.
Met rustyd was hulle 3-19 agter en Francois Louw moes nog drie minute van ’n geel kaart uitdien, hul derde losskakel, Lionel Cronjé, is met ’n kwaai dyspierbesering van die veld ná net meer as 20 minute en die hemele het oopgemaak oor die grootste stad in Nieu-Seeland.
“Ek kan jou nie mooi vertel hóé trots ek op hierdie spelers is nie,” het hul breier, Allister Coetzee, agterna gesê. “Hoe honger hulle doodeenvoudig was om nie te verloor nie...”
Swak punte in die Stormers-vertoning was die lynstane en, in mindere mate, die taktiese skopwerk. Laasgenoemde was verskoonbaar, gesien die krukkelys, maar nie eintlik fataal nie, omdat die Kapenaars se agttal die bal vasgehou het wanneer hulle kon.
“As ’n afrigter met sulke spelers beland, dank hy sy sterre. Jy kan oor alles leer, maar karakter is nie iets wat jy vir ander mense kan help kry nie. Toe daar moeilikheid was, het hulle dit omhels,” het Coetzee gesê.
Die groot ding is: nou dat dit duidelik raak wat die eise van Super-rugby is, is dit tyd om te belê in baie groot spangroepe.
Die Stormers moes Vrydag sonder al drie hul eerstekeuse binne-agterspelers klaarkom, maar die plaasvervangers het hul oomblik in die kalklig terdeë aangegryp.
Terwyl Jean de Villiers en Jaque Fourie dalk die beste senterpaar op aarde mag wees, is hul alternatief, Juan de Jongh, allermins ver agter een van hulle wanneer dit by doeltreffendheid kom.
Binnesenter is relatief nuut vir hom, maar Vrydag was hy majestueus, hoewel min kykers dalk dié relatiewe veteraan sou raaksien binnekant die amper ewe uitstekende Johann Sadie. Maar die man waaroor die oudstryders Vrydagaand in Kaapstad gesels het, was die merkwaardige loskopstut, Steven Kitshoff.
Die rooikop het die skrum help stabiliseer en gewoel orals anders. Hy was verlede jaar nog op hoërskool – iets wat ’n man soms van agterspelers op hierdie vlak kan sê, maar feitlik nooit van jou vaste vyf nie.
Saam met hom het Tiaan Liebenberg, Nick Koster en Anton van Zyl momentum kom help gee toe die Stormers ’n tweede hap woema begin makeer het. Niemand weet nog hoe die nuwe Super-rugby werk nie, maar ná al die beserings weet die Stormers nou hulle het ’n lekker spelers-groep.
Coetzee beskryf dit as ’n “lekker kopseer” om te kies – hy sal uiteraard waarskynlik weer Saterdag teen die Brumbies met die gesoute Bok-senterkombinasie begin, maar dat De Jongh en Sadie se vertoning dit hoegenaamd regverdig om oor te stry, sou niemand verlede Donderdag voorsien het nie.
Die heldder helde was egter Dewaldt Duvenage.
Hy’s soms ’n bietjie vaal op skrumskakel, maar nadat hy Vrydag vir 60 minute in ’n deurslaggewende wedstryd skitterend op losskakel vertoon het, sal sy felste kritici agteroor sit en wag vir hom om groot te word.
“Daar was ouens wat in my gesig gelag het toe ek sê hy’s ons losskakel-plaasvervanger, maar ek was nie so bekommerd nie. Die situasie is aan ons opgedwing met die beserings, maar Dewaldt het verstaan dat ons net van hom vereis om sy verdediging ’n kanaal wyer te skuif.
“En sy aangeë het ons terselfdertyd baie wydte op die aanval gegee. Skrumskakels is altyd planmakers,” sê Coetzee.
Die kans is “tagtig tot negentig persent” dat Peter Grant Saterdag teen die Brumbies sal kan speel, met De Villiers en Fourie wat beslis beskikbaar behoort te wees.
- Sport24
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter