Stormers kry nuwe afrigter
2009-11-18 07:03
Stephen Nel
Kaapstad - Allister Coetzee is voortaan die hoofafrigter van die Stormers-rugbyspan, maar Rassie Erasmus bly aan die stuur as senior professionele afrigter.
Boonop is die Westelike Provinsie gretig om Erasmus se kontrak te verleng. Hy sal steeds strategies nou by die Stormers betrokke wees, maar Coetzee se bevordering sal Erasmus toelaat om na die groter rugbyprentjie te kyk.
“Ons het goedkeuring om Rassie se kontrak te verleng en sal met hom onderhandel,” het die besturende direkteur van WP Rugby (Edms.) Bpk., Rob Wagner, gister aan Sport24 gesê.
Erasmus se huidige kontrak strek tot die einde van aanstaande seisoen.
In ’n verdere verwikkeling sal die Stormers op 6 Februarie teen die Boland in die nuwe Kaapstad-stadion in Groenpunt speel.
Die ander opwarmwedstryde voor die Super14-reeks sal teen die Western Force en Sharks op Nuweland wees, met 23 en 29 Januarie die voorlopige datums.
Erasmus het gister aangekondig dat die afrigtingstruktuur wat deur die WP in die Curriebeker-reeks gebruik is, óók in die Super14-reeks sal geld. Dit beteken Robbie Fleck (agterlyn-afrigter) en Matthew Proudfoot (voorspeler-afrigter) kom aan boord. Proudfoot vervang Gary Gold, wat ’n hulpafrigter by die Springbok-span is.
Erasmus se kop bly egter op die blok in ’n struktuur waar hy vir strategie, taktiek en die kontraktering van spelers verantwoordelik sal wees.
“Die struktuur het goed in die Curriebeker gewerk en die manier waarop Allister die span bestuur en met spelers, ouers en bestuurslede gewerk het, het my oë laat oopgaan,” sê Erasmus.
“Allister is goed met die spelers, media en publiek onder moeilike omstandighede. Hy is ’n ou wat gehelp het om die Wêreldbeker te wen, is tien jaar ouer en meer ervare as ek en ons kan dít nie weggooi nie.
“Ek kan met my rugbybrein meer tyd aan die spel spandeer.
“Fleckie het ook baie tot die agterlyn bygedra en niemand twyfel oor wat Matthew vir die vaste vyf gedoen het nie.”
Stormers se afrigtingstuktuur:
Senior professionele afrigter: Rassie Erasmus.
Hoofafrigter: Allister Coetzee.
Agterlyn-afrigter: Robbie Fleck.
Voorspeler-afrigter: Matthew Proudfoot.
Verdedigingsafrigter: Jacques Nienaber.
Spanbestuurder: Chippie Solomon.
Dokter: Ryan Kohler.
Fisioterapeut: Liza van Schalkwyk.
Masseur: Greg Daniels.
Fiksheidskundiges: Stephan du Toit en Greg Hechter.
- Die Burger