Sterk Kaizer Chiefs-span vir sewestoernooi
2012-12-03 14:13
Kaapstad – Kaizer Chiefs het Maandag 'n sterk groep vir die Premierliga-sewestoernooi, wat op 14 en 15 Desember in George plaasvind, tydens 'n mediakonferensie onthul.
Die Chiefs is saam met die Westelike Provinsie en die privaatspan Samurai in Groep C geloot en sal teen die Lions, Living Ball en Sharks in die uitspeelrondes te staan kom.
Die oud-Springbokke Breyton Paulse, Jongi Nokwe en Frederich Lombard is in die groep opgeneem terwyl die span se afrigter, Gcobani Bobo, ook op die jong Keniaanse ster Daniel Adongo se dienste sal kan staatmaak.
Wandile Mjekevu, Cameron Jacobs, Wilhelm Koch, Junior Bester, Shuaib (Bom) Samaai en die jong WP-blits Elmo Thomas is ook ingesluit.
Kaizer Chiefs sal die name van nog twee spelers op 'n latere tydstip bevestig.
Intussen is die Springbok-haker Bismarck du Plessis as ambassadeur van die Kaizer Chiefs-rugbyspan onthul.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24