Ster van Vrystaat kry vet beloning
2011-08-08 07:04
Bloemfontein - Die Springbok-flank Heinrich Brüssow is Sondag vir sy vyfster-vertoning Saterdag hier teen die Westelike Provinsie beloon toe hy saam met die Springbokke in Durban saamgetrek het.
Brüssow, wat nie Vrydag in die Bok-groep vir die twee tuistoetse in die Drienasies-reeks ingesluit is nie, is ná sy puik spel as plaasvervanger vir die Cheetahs in hul Curriebeker-sege van 28-22 in die Suid-Afrikaanse groep ingesluit.
Dié Bok-baljagter het ’n suksesvolle terugkeer teen die Streeptruie gemaak ná ’n dyspierbesering.
Naka Drotské, die Vrystaat se afrigter, het Saterdag – weliswaar tong in die kies – dalk goeie raad oor Brüssow aan Peter de Villiers, die Bok-breier, gegee.
Drotské het Brüssow vir sy spel as Vrystaat-plaasvervanger geloof en gesê indien hy De Villiers was, sou hy Brüssow nog ’n Curriebeker-wedstryd laat speel het voordat hy hom op toetsvlak loslaat.
Die Bokke speel Saterdag in Durban in die Drienasies-reeks teen Australië en die week daarna in Port Elizabeth teen Nieu-Seeland.
Brüssow het sowat 25 minute vir die Cheetahs gespeel en gewys hy is weer reg vir groot dinge. Hy was saam met die Bokke op hul Drienasies-toer, maar kon weens sy besering nie oorweeg word nie.
Hoewel Drotské bloot oor Brüssow geskerts het, is dit dalk nie ’n slegte idee om hom, met die oog op die Wêreldbeker-toernooi, eerder later as te vroeg weer toetsrugby te laat speel nie. “As ek die Springbok-afrigter was, sou ek Heinrich nog 60 minute Curriebeker-rugby laat speel het en 100% seker maak hy is reg vir die tweede Drienasies-toets – (tuis) teen die All Blacks in Port Elizabeth,” het Drotské geskerts.
“Hy het die wedstryd teen die WP vir ons teen die einde geswaai. Hy het elke keer belangrike omgekeerde besit vir ons gewen wanneer ons binne ons eie halfgebied was en onder druk verkeer het.
“Heinrich was in ’n klas van sy eie. Om in 25 minute drie belangrike turnovers te maak, was briljant.”
Die Cheetahs sal moontlik Saterdag ook sonder die senter Andries Strauss en die heelagter Hennie Daniller teen die Leeus moet klaarkom.
“Andries het sy enkelligamente seergemaak. Ons weet nog nie hoe ernstig dit is nie. Ons sal seker Maandag (vandag) weet,” het Hawies Fourie, agterlyn-afrigter van die Vrystaat, gesê.
Volgens Drotské het Daniller ’n groot sny aan sy knie.
“Dis gelukkig net steke en hy gaan waarskynlik volgende week uit wees, want ’n ou moet die wond kans gee om te heg.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
- Sport24