Enjin bars in vlamme uit op Springbok-vlug
2011-07-15 20:55
Johannesburg – Die Springbok-span het 'n paar benoude oomblikke beleef op hulle vlug uit Johannesburg ná 'n enjin op hulle Quantas-vliegtuig na Sydney in vlamme uitgebars het.
Die Springbokke het Vrydagaand na Sydney vertrek toe enjin drie van die vliegtuig met "'n groot slag" ontplof het.
Die vliegtuig het sonder verdere probleme 'n noodlanding gemaak by die Oliver Tambo-lughawe.
Verskeie Springbokke en Springbok-personeellede het die insident op die sosiale netwerk Twitter genoem.
“So Quantas moet 'n ander vliegtuig stuur wat beteken nog een nag in Johannesburg. @GaryGoldrugbyiq dink hy het vlamme uit die enjin sien kom!” het Alistair Hargreaves getweet.
John Smit het sy tweede veilige noodlanding gemaak: "Wow, ons moes nou net 'n noodlanding by OR Tambo maak; ons het 'n enjin verloor na ons opgestyg het maar het nou veilig geland! My tweede veilige noodlanding!”
“Terug in Johannesburg! Ons Nr. 3-enjin het ontplof met 'n groot slag!" het Ashley Johnson getweet.
Saru het die voorval in 'n verklaring bevestig.
"Die Qantas-vlug waarop die span gereis het is minder as twee uur na dit opgestyg het, gedwing om na die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg terug te keer ná enjin nommer drie op hulle Boeing 747 oorverhit en ingegee het. Die vliegtuig het veilig na Johannesburg teruggekeer," het die verklaring gelui.
Die Springbokke sal vir die aand in Johannesburg bly en sal nie voor Saterdag na Australië vertrek nie.
Qantas kon ten tye van die publisering van die berig nie vir kommentaar bereik word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
– Sport24