Springbok-toets op e.tv uitgesaai
2012-06-15 16:55
Johannesburg – SuperSport en e.tv het ‘n eenmalige ooreenkoms bereik om Saterdag se rugbywedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland om 22:00 op die gratis kanaal uit te saai.
Happy Ntshingila, uitvoerende hoof van SuperSport, sê hy is bly pogings om die wedstryd beskikbaar te maak aan kykers wat nie betaal-televisie het nie is moontlik gemaak, ten spyte van die kort kennisgewing.
Monde Twala, die groephoof van e,tv se kanale-afdeling, sê: “e.tv is opgewonde om die Springbokke op ons kanaal te hê. Alhoewel hierdie ‘n eenmalige ooreenkoms is, sal ons altyd die geleentheid verwelkom om te verseker dat die meerderheid van Suid-Afrikaners na hul nasionale helde kan kyk.
“Ons sou graag die geleentheid wou hê om die toetswedstryd vroeër uit te saai, maar gegewe ons skedule en tydbeperkings was dit onmoontlik.”
Die wedstryd sal om 17:00 regstreeks op SuperSport1 en HD1 uitgesaai word, om 19:00 op SS4 en om 22:00 op e.tv.
Dit volg ná ‘n gesamentlike verklaring vroeër in die week van die regtehouer SuperSport en die SABC dat die SABC nie die wedstryde op die televisie sal uitsaai nie.
Hlaudi Motsoeneng, waarnemende bedryfshoof van die SABC, het gesê die SABC het besluit om nie enige geleentheid uit te saai as hy dit nie regstreeks kan uitsaai nie.
– Sport24
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter