Smit waarsku teen Hane
2010-06-09 11:07
Kaapstad - Die Springbok-kaptein John Smit het gewaarsku dat sy span sal moet waak teen 'n stadige begin in hul toets Saterdag teen Frankryk op Nuweland.
Die Bokke het verlede naweek op 'n stadium met 16-3 in die toets teen Wallis agtergeloop voor hulle uiteindelik die wedstryd met 34-31 gewen het.
"Daar is geen verskoning vir ons swak spel in die eerste 20 minute van die wedstryd teen Wallis nie," het Smit Dinsdag tydens ‘n perskonferensie gesê.
“As ons vir 20 minute swak gaan speel teen Frankryk, is ons in die moeilikheid. Hulle sal ons nie toelaat om daarmee weg te kom soos die Walliesers gedoen het nie," het Smit bygevoeg.
Die slot Danie Rossouw het gesê dat die laaste keer wat hy teen Frankryk uitgedraf het, een van die mees fisieke wedstryde van sy loopbaan was.
Suid-Afrika kon nog net drie van hul laaste nege wedstryde teen Frankryk wen.
Afskoptyd Saterdag op Nuweland is om 14:00.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- SuperRugby