Smit en Bokke kán skrum, sê Theron
2011-04-14 08:55
Bloemfontein - Daar is genoeg stutte van gehalte in Suid-Afrikaanse rugby dat die Springbokke in September moeiteloos in die Wêreldbeker-toernooi in die skrums kan saamgesels.
Dít is die mening van die oud-Springbok-stut Dawie Theron wat deesdae afrigter van die Suid-Afrikaanse o.20-span is.
Daar word wyd vertel dat die Bok-kaptein, John Smit, as loskopstut geskool word omdat daar andersins nie as haker vir hom plek in die Bok-groep sal wees nie.
Maar volgens Theron het Smit juis Saterdag in die Sharks se Super Rugbywedstryd teen die Lions gewys hy moet saamtoer Nieu-Seeland toe.
“John het beslis gewys van watter waarde hy op loskop is. Hy het teen die Leeus baie goed geskrum en dit lyk of hy nou tuis raak in daardie posisie. Daarbenewens het hy Wêreldbeker-ervaring, iets wat nie agter elke bos uitgeskop word nie.”
Theron glo die Bok-afrigter, Peter de Villiers, sal ook op Tendai (Beast) Mtawarira en Gurthrö Steenkamp se knoppies vir die loskop-posisie druk.
“Beast het destyds teen die Britse en Ierse Leeus sy skrumkrag gewys. Hy sal beslis oorweeg word. Oor Gurthrö hoef ’n mens nie veel te sê nie. Hy is die total package. Hy skrum uitstekend en sy driedruk-vermoë is alombekend.”
Dit is eerder oor die vaskop-posisie dat die Springbok-afrigter voor die Wêreldbeker-toernooi gaan kopkrap, glo Theron.
“Hy het dalk nie teen die Lions in die beginspan uitgedraf nie, maar Jannie du Plessis speel tans goeie rugby.
“Hy bly maar altyd in die mix.
“Iemand wat ek glo ’n buiteperd vir insluiting is, is Eugene van Staden. Hy het teen die Lions gewys hy is ’n faktor. Hy moet net sy fiksheid opskerp.
“Dan moet ’n mens ook nie van CJ van der Linde vergeet nie. Hy kan op loskop én vaskop sak, iets wat beslis in sy guns tel.”
Beweeglikheid is ’n faktor wat in gedagte gehou moet word, maar by stutte is dit ’n luukse, sê Theron.
“Dit is altyd lekker om te weet jy het stutte wat met die bal kan hardloop, maar ’n mens kan nie skrumkrag daarvoor inboet nie.
“Veral jou vaskopstut moet kan skrum.
“Balbesit van goeie gehalte is gelyk aan rugby van goeie gehalte. Die baldra-aspek sal net ’n bonus wees,” het Theron gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24