Smit aan roer van sake
2010-01-20 07:18
Kaapstad - ‘By die Sharks is dit nie rêrig ’n reuse-kwessie agter wie se naam die (k/c) op die wedstrydprogram staan nie,” sê die Springbok-kaptein, John Smit, wat die Durbanse streekspan in vanjaar se Super14 -rugbyreeks sal aanvoer nadat die slot Johann Muller dit verlede jaar gedoen het.
“Toe ek teruggekeer het uit Frankryk, was ouens soos Johann en Stefan (Terblanche) aan die roer van sake en dit het g’n verskil gemaak nie. Daai ouens is in elk geval leiers – dis nie rêrig ’n ernstige saak by ons wie nou eintlik kaptein is nie. Ek dink John Plumtree (afrigter) het maar ’n bottel gespin om te besluit,” skerts Smit.
Smit was ná verlede seisoen op ’n landswye toer om sy outobiografie bekend te stel. Daar was sportmedici wat hieroor wenkbroue gelig het, maar die Bok-kaptein trek sy skouers op.
“Die boek-toer was werklik nie veeleisend nie. Jy vlieg nogal rond, maar dis iets wat jy moet gaan doen – dankie sê vir die mense wat jou boek gekoop het. Dis nou nie juis harde werk om op ’n stoel te sit en jou handtekening uit te deel nie!”
Die afgelope drie weke was blykbaar ’n ander storie. “Ja-nee, harde werk is wat jy by Mark Steele doen. Hy’s ons fiksheid-ou. Ek dink soms hy’s ’n bietjie psycho! Daai ou werk jou gal vir jou.”
Smit se geesdrif oor die nuwe seisoen besweer gerugte dat hy dit in ’n stadium sterk oorweeg het om sy stewels op te hang. “Nee wat, ek is bitter opgewonde oor die seisoen wat voorlê. Ons het ’n lekker groep bymekaar.
“Die meeste van die jonger outjies is ook nou al drie seisoene se groot rugby gewoond, so hul ervaring kom goed aan. En die ouer kêrels soos ek, Johann, Stefan en Jacques Botes is nog altyd daar en nog altyd geesdriftig. Ons sien uit na ’n lekker Super14.”
Die Sharks kom Sondag in Kaapstad aan vir die Neo Africa-reeks op Nuweland en speel die 26ste teen die Western Force en die 29ste teen die Stormers.
- Beeld
- Beeld