Slot-terugslag vir GW
2011-09-20 08:32
Kimberley – Griekwas sal die res van die Curriebeker-reeks sonder sy besluitnemer in die lynstane en staatmaker-slot Martin Muller oor die weg moet kom.
Muller het vroeg verlede week sy enkel op die oefenveld beseer en kon nie Saterdag teen die Pumas op die veld draf nie.
Daar is aanvanklik gedink dat hy betyds sou herstel om die Luiperds oor twee weke in Potchefstroom aan te durf, maar Griekwas se breier, Abré Minnie, het Maandag bevestig hulle is Muller se dienste vir die res van die reeks kwyt.
“Martin het sy enkelligamente geskeur en sal die res van die seisoen nie kan speel nie. Dit is beslis ’n reuse-slag vir ons,” het Minnie gesê.
Hendrik Roodt (voorarm) is ook nie vir die Pumas-kragmeting oorweeg nie, maar die kans is goed dat hy dalk al hierdie Vrydag in Durban teen die Haaie op die veld kan draf.
Die Pumas het in Muller-hulle se afwesigheid die Poubloues behoorlik in die lynstane ontwrig en by meer as een geleentheid op hul teenstander se ingooi besit afgeneem.
Die Haaie het sekerlik kennis geneem van die Noord-Kapenaars se geploeter in die lynstane en sal daarop uit wees om Muller se afwesigheid uit te buit. Minnie-hulle sal dus duim vashou dat Roodt, met sy goeie springwerk en vermoë om oor die voordeellyn te kom, saam na Durban kan reis.
In ieder geval sal die Noord-Kapenaars vandeesweek soveel aandag moontlik aan hul lynstaanwerk gee voordat hulle die Haaie die stryd aansê.
As Roodt wel Vrydag speel, sal Minnie tussen Jaco Nepgen en Frikkie Spies as sy slotmaat moet kies.
“Dit is nou tyd vir ouens soos Frikkie en Jaco om na vore te tree,” het Minnie gesê.
Intussen het twyfel ook ontstaan oor die beskikbaarheid van die ster-skrumskakel Sarel Pretorius. Sy afwesigheid het ’n leemte gelaat toe hy die tweede helfte teen die Pumas weens ’n liesbesering misgeloop het.
Daar is ook nog nie duidelikheid oor die senter Jean Stemmet (voetbesering) en stut Ivann Espag (kuitbesering) se beskikbaarheid nie.
“Sodra Sarel die spesialis gesien het, sal daar duidelikheid wees. Dieselfde geld Jean en Ivann.” het Minnie gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24