Skotte laai lynstane
2010-11-18 07:32
Edinburg – Suid-Afrika is ’n verenigde span en sal nie dat die omstredenheid oor stimulante sy spelpeil vir Saterdag se rugbytoets teen Skotland op Murrayfield raak nie.
Dís die mening van die Skotte se breier, Andy Robinson, wat Woensdag verras het deur die veteraan-slot Nathan Hines as flank vir dié stryd te kies.
Hines (33), wat verlede jaar vir die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika gespeel het, sal die tuisspan se lynstaan aansienlik meer gedug maak en boonop ’n fisieke element aan die pak verleen.
“Suid-Afrika speel direkte rugby. Die Springbokke gaan bo-oor, eerder as óm ons probeer hardloop. Hulle het ’n uitstaande pak voorspelers,” het Robinson gister gesê.
“Dis natuurlik moeilik as jy twee spelers (Chiliboy Ralepelle en Bjorn Basson) verloor, maar dis baie duidelik dat die Bokke ’n verenigde span is. Victor Matfield is ’n gehalte-mens en ook ’n fantasiese leier.
“Dis duidelik dat die span hom volg.
“Suid-Afrika se twee oorwinnings op die toer wys dat daar eenheid in die groep is.”
Robinson het erken dat sy spelers nog aan “bomskok” ly ná die naweek se nederlaag met 3-49 teen die All Blacks.
“Nieu-Seeland het vir ons ’n paar rugbylesse kom leer.
“Die spankeuses vir Saterdag is nie met die lang termyn in gedagte nie.
“Ons het hierdie week eenvoudig ’n groot vertoning nodig.”
Hines het verlede jaar in Suid-Afrika vir die Britse en Ierse Leeus teen die Vrystaat en OP-Kings flank gespeel, terwyl hy ook vanjaar al vir die Ierse streekspan Leinster daar uitgedraf het.
Hy is egter hoofsaaklik ’n slot en etlike lede van die besoekede Britse media tydens verlede jaar se Leeus-toer het geglo dit was ’n groot fout om hom nie as Paul O’Connell se slotmaat in die eerste toets in Durban in te span nie.
“Hines is die een speler wat Saterdag in die tweede helfte teen die All Blacks opgekom en ’n verskil gemaak het. Ek het die pak gekies met Suid-Afrika se sterk punte in die agterkop. Scott Macleod is op slot gekies en is baie atleties in die lynstane,” het Robinson gesê.
Die voormalige Engelse breier het verskeie Bokke behoorlik heuning om die mond gesmeer in sy opsomming van die besoekers.
“Francois Hougaard het baie vaart en gaan vrae aan ons verdediging stel. Frans Steyn kan wêreldklas wees en Jean de Villiers doen wat hy doen baie goed. Morné Steyn is die wêreld se beste stelskopper, so ons dissipline sal baie goed moet wees,” het hy gesê.
“Ek slaan vir Ryan Kankowski hoog aan. Hy is ’n puik baldraer. Juan Smith is tans een van die beste losvoorspelers ter wêreld, want hy het alles. Dan is Bakkies Botha en Matfield as slotpaar wêreldklas.”
Robinson is dalk opreg in sy komplimente, maar sal dit natuurlik ook gebruik om sy eie troepe te motiveer.
Rory Lawson, kleinseun van die wyle rugbykommentator Bill McLaren, sal Skotland aanvoer.
Skotland se span is:
Hugo Southwell, Nikki Walker, Max Evans, Graeme Morrison, Sean Lamont, Dan Parks, Rory Lawson (k), Kelly Brown, John Barclay, Nathan Hines, Richie Gray, Scott MacLeod, Euan Murray, Ross Ford, Allan Jacobsen.
Plaasvervangers: Dougie Hall, Moray Low, Richie Vernon, Ross Rennie, Greig Laidlaw, Ruaridh Jackson, Chris Paterson.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg