Skoolseun geskors vir kopstamp
2012-04-26 09:58
Johannesburg – Die skoolseun van Mookgophong (Naboomspruit), wat 'n skeidsregter met sy kop bewusteloos gestamp het, is vir drie jaar geskors, volgens berigte Donderdag.
'n Tugkomitee van die Blou Bulle se rugbyunie (BBRU) het die saak Maandagaand in Pretoria aangehoor en die 17-jarige matriekleerling vir tien jaar geskors, waarvan sewe opgeskort is, het Beeld berig.
Die rugbyspeler, 'n leerling van die Hans Strijdom Hoërskool, het skuldig gepleit op die aanklagte dat hy Chris de Beer (37), vroeër die maand in 'n wedstryd in Mookgophong aangerand het.
De Beer, 'n lid van die Blou Bulle se skeidsregtervereniging, was 'n tyd lank bewusteloos en moes deur paramedici op die veld behandel word.
Louis Nel, president van die BBRU, het gesê die feit dat dit die speler se eerste oortreding is en dat sy ma terminaal siek is, was versagtende omstandighede wat in ag geneem is.
De Beer het gesê hy is baie teleurgesteld met die tugkomitee se uitslag en dat hy bedank het uit die skeidsregtervereniging.
"Die straf is belaglik, en dit gaan veroorsaak dat skeidsregters al hoe meer blootgestel word aan dié tipe geweld."
Volg Nuus24Sport op Twitter.