Skool-breier uit rugby geskors ná skouerloop
2012-08-03 12:18
Johannesburg – 'n Assistent-afrigter van die Hoërskool EG Jansen in Boksburg, wat op video vasgevang is waar hy 'n skeidsregter met die skouer stamp, is vir twee jaar uit rugby geskors, het Sport24 Vrydag berig.
Volgens die voorwaardes van sy skorsing mag Schalk Snyman vir vyf jaar, waarvan drie jaar opgeskort is, nie direk of indirek by rugby betrokke wees nie.
Snyman is gekors toe hy Mlungiseleli Mdashe na afloop van 'n wedstryd op 12 Mei met die skouer geloop het.
Advokaat Jacques Pienaar, voorsitter van die Valke rugbyunie (VRU) se regskomitee, het gesê Snyman sal toegelaat word om op "ander vlakke" by rugby betrokke te wees.
Jurie Coetzee, die VRU se uitvoerende hoof, het gesê die breier het steeds 'n belangrike rol om te speel, want hy kan die gevolge van sy aksies met ander afrigters en leerders deel om te help om dié sport te beskerm.
Hy sal as 'n agent vir positiewe verandering by verskeie rugby-komitees gebruik word, het Coetzee gesê
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24