Skok oor rugbyspeler se dood
2012-12-13 14:45
Parys – David Tait, 'n voormalige agsteman vir Sale Sharks, wat ook sewesrugby vir Skotland gespeel het, is op die ouderdom van 25 jaar dood, het dié Engelse klubspan Donderdag aangekondig.
Tait, wie se rugbyloopbaan deur beserings kortgeknip is, het na bewering van 'n woonstelgebou in Hongkong geval.
"Vir die rugbygemeenskap is dit hartverskeurend om te hoor van die afsterwe van so 'n talentvolle en gewilde jong man, wat deur almal gerespekteer is wat saam met hom gespeel het," het die uitvoerende hoof van die Rugbyspelersvereniging, Damian Hopley, in 'n verklaring gesê.
Die 25-jarige Tait het as 'n finansiële bestuurder vir die ouditeursmaatskappy KPMG in Hongkong gewerk en het vyf jaar vir Sale Sharks, wat hom as tiener gekontrakteer het, gespeel.
Hy was deel van Engeland se oefengroep vir die Internasionale rugbyraad (IRR) se wêreldsewesreeks in 2008 en het in 2009 vir Skotland by die Doebai-sewestoernooi verteenwoordig.
"Ons sal alles in ons vermoë doen om David se familie en die ouens wat saam met hom gespeel het te ondersteun. Sy familie en vriende is in ons gebede," het Hopley bygevoeg.
Dit is die tweede tragedie wat die gesin tref nadat David se pa, Campbell Tait, homself in sy motorhuis in 2004 opgehang het.
Volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24
- Sapa - AFP