Skeate breek sy neus
2011-09-13 07:03
Johannesburg – Die Haaie se rugbyspan sal die volgende paar weke sonder die slot Ross Skeate moet klaarkom.
Skeate het sy neus gebreek in die sege Saterdag oor die Pumas in Durban en sal volgens die spandokter, Ewoudt van der Linde, ’n paar weke lank uit aksie wees.
Daar is ook nog nie sekerheid of die Springbok-skrumskakel Charl McLeod Saterdag in Bloemfontein in die Curriebeker-wedstryd teen die Cheetahs kan speel nie.
McLeod het sy skouer twee weke gelede beseer en het die wedstryd teen die Pumas misgeloop. Hy sal eers Donderdag ’n fiksheidstoets aflê.
Skeate het sy neus vroeg in die Pumas-wedstryd gebreek en sy plaasvervanger, Anton Bresler, het ’n stewige vertoning gelewer en ook een van die Haaie se vyf drieë gedruk.
Hy behoort die Springbok Alistair Hargreaves se slotmaat teen die Cheetahs te wees.
Jóhann Thormählen berig dat die Cheetahs-senter Andries Strauss sy terugkeer van ’n besering af teen sy ou spanmaats kan maak.
Strauss het van beseerde enkelligamente herstel.
Buiten Strauss se terugkeer, sal die Vrystaat-flank Philip van der Walt én -vleuel Cameron Jacobs waarskynlik ook reg wees. Laasgenoemde twee het albei Saterdag teen die Blou Bulle ’n hou teen die kop gekry.
Gerdie Karstens berig dat Griekwas volgende jaar sonder een van hul voorste spelbrekers moet klaarkom nadat die slot Hendrik Roodt ’n kontrak by die Goue Leeus onderteken het.
“Dit is werklik jammer dat hy (Roodt) elders geteken het, want dit is nog een van jou groot spelers wat ’n mens verloor,” het Griekwas se uitvoerende hoof, Arni van Rooyen, gesê.
Ondanks Roodt se verlies, is daar verskeie aanwinste, soos Janro van Niekerk (Boland), Marnus Schoeman (Blou Bulle), Enrico Acker (Vrystaat), Jacques Coetzee (Pumas), Walter Venter (Luiperds), PJ Vermeulen (Boland), Dusty Noble (Leeus) en Willie le Roux (Boland).
- Daar heers steeds onsekerheid oor Earl Rose.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg