Sharks moet verduidelik
2010-01-28 08:31
Stephen Nell en Pieter Jordaan
Kaapstad en Johannesburg - Die Sharks sal aan ’n tugkomitee moet verduidelik waarom Willem Alberts Dinsdagaand sonder vrystelling vir hulle in ’n vriendskaplike rugbywedstryd teen die Western Force op Nuweland gespeel het.
Christo Ferreira, bestuurder van regsaangeleenthede van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het bevestig dat hy ’n klag van die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU) ontvang het.
“Die Leeus het die klag gelê teen Willem Alberts en Louis Ludik én teen die Sharks,” sê Ferreira.
Ludik is beseer en het nog nie vir die Sharks gespeel nie, maar volgens Ferreira voer die Leeus aan dat hy nie by die Durbanse streekspan mag oefen nie.
Volgens die Leeus het hulle bindende kontrakte met Alberts en Ludik.
Saru het die kwessie na die voorsitter van sy regskomitee, regter Lex Mpati, verwys. Mpati sal ’n tugkomitee aanstel om die klag aan te hoor dat Saru se regulasies ten opsigte van die beweging van spelers verontagsaam is.
Die Sharks se uitvoerende hoof, Brian van Zyl, het aan Sport24 gesê dat Alberts en Ludik presies dieselfde soort kontrak het as wat Jaque Fourie met die Leeus gehad het.
Fourie was in ’n kontrakgeskil met die GLRU gewikkel en ’n arbiter het bevind dat hy nie vir vanjaar ’n geldige kontrak met die Leeus het nie. Hy kon daarom by die Westelike Provinsie aansluit.
“Ons wil hê Saru moet tussenbeide tree en ’n beslissing gee. Sy regulasies vereis dit. Ons vra Saru nou al meer as ’n maand lank om tussenbeide te tree,” het Van Zyl gister gesê toe hy oor die jongste verwikkelinge om kommentaar genader is.
“Ons glo die kontrakte (van Alberts en Ludik) is presies dieselfde as Jaque Fourie s’n. Ons het albei gesien. Jaque het ons aanvanklik genader om hierheen te kom.
“Wat die verstand te bowe gaan, is dat die spelers meer by ons as die Leeus verdien.
“As die kontrakte geldig was, sou hulle die reg gehad het om ons aanbiedinge te ewenaar.
“Hulle glo die spelers is sonder toestemming met verlof en het hulle nie sedert 1 November verlede jaar betaal nie.”
Die Kaapse prokureur Frikkie Erasmus, wat Fourie se saak behartig het, sal die Sharks verteenwoordig.
“Ons sal maar wag vir die klagstaat om te sien wat die situasie is,” het Erasmus gister gesê.
Manie Reyneke, uitvoerende hoof van die Leeus, sê hy hoop die aangeleentheid kan nou op die spits gedryf word.
“Ongelukkig gaan die spelers (Alberts en Ludik) daaronder ly. As daar so gou as moontlik duidelikheid verkry kan word, dan kan die arme spelers ook weet waar hulle moet speel,” sê Reyneke.
Die Alberts/Ludik-debakel het in die nadraai van die Jaque Fourie-kontrakdispuut ’n probleem met spelerskontrakte in die algemeen na vore gebring.
Die GLRU het nou skynbaar self daarby baat gevind toe ’n beslissing vandeesweek oor die Cheetahs-skrumskakel JP Joubert se wens om vir die Lions te kom speel in die Gautengers se guns gevel is.
“Maar dit is werklik ’n ernstige saak,” sê Reyneke oor die uitbuiting van sogenaamde grys gebiede in spelerskontrakte.