Sharks byt seerste
2011-06-05 07:00
Bloemfontein - Honger was Saterdagaand hier in die Vrystaat-stadion die beste kok en uiteindelik was dit die Sharks wat in hierdie Super-rugbywedstryd kon aansit vir die maal teen die Cheetahs.
’n Veel beter vertoning in die tweede helfte, nadat hulle rustyd nog met 6-11 agter was, het die Sharks se hoop op sukses in dié reeks laat opvlam nadat hulle uiteindelik met 23-18 as oorwinnaars van die veld gestap het.
Die geweer wat teen die Sharks se koppe gehou is en rustyd al oorgehaal was, het verdwyn in ’n laaste halfuur waarin die besoekers soos ’n weghol-veldbrand was.
Twee langafstand-drieë in daardie tydperk deur die vleuels het die Sharks ’n welverdiende sege besorg.
Hulle het gehoor gegee aan die pleidooi van hul afrigter, John Plumtree, wat met rustyd hard sou gepraat het, deur in die tweede helfte met veel meer oorgawe in te klim.
Verwoede verdediging was die ander bestanddeel om aan die Sharks ’n wensmaak in die mond te laat.
Vir die laaste sewe minute moes hulle met net 14 spelers, en die laaste drie met net 13, keer vir al wat hulle werd was om die begeesterde tuisspan aan bande te lê nadat Charl McLeod en Keegan Daniel in die koelkas beland het.
Twee strafskoppe wat die Cheetahs met die telling op 11-16 nie pale toe geneem het nie, asook nog vier verbroude pogings het hulle uiteindelik duur te staan gekom.
Die manier waarop die wedstryd begin het, was die verhaal van hoe die eerste helfte vir die Sharks verloop het.
Propvol foute.
Patrick Lambie se afskop het nie tien meter getrek nie en die Cheetahs kon voordeel trek.
Met tye was daar baie aksie, maar nie veel konstruktief het regtig aangegaan aan beide kante nie.
Lambie het die eerste punte in die dertiende minuut aangeteken met ’n strafdoel, maar vanaf die daaropvolgende afskop het die Cheetahs teruggeslaan toe Sarel Pretorius die enigste drie van die helfte gedruk het.
Riaan Viljoen, wat regtervleuel gespeel het, het met ’n briljante aftrap die Sharks op die verkeerde voet betrap en ná ’n stewige lopie vir Ashley Johnson in besit gestel, wat Pretorius gevoer het om onder die verdedigers uit te nael.
In die tweede helfte het Pretorius amper weer gedruk nadat hy vanaf sy eie tienmeterlyn met ’n losbal gehol het en slegs enkele meter van die doellyn deur die sneltrein JP Pietersen platgetrek is.
Pietersen was ook betrokke by die sleuteloomblik van die wedstryd. Met ’n kwartier oor het Adrian Jacobs deur ’n gaping gesny en Pietersen weggestuur om te druk en die gaping te rek tot 23-11.
Pretorius se Sharks-eweknie, Charl McLeod, het veel meer die skoen ingelê in wat ongetwyfeld ’n taktiek van die Sharks was om in die tuisspan se kwartgebied te wil speel.
Dit het egter nie in die eerste 40 minute gewerk nie en die Cheetahs het met goeie teenaanvalle net weer teruggekom in die besoekers se gebied.
Ná drie mislukte pogings pale toe, een daarvan ’n skepskop, het Sias Ebersohn uiteindelik sy skoprekening geopen met Bismarck du Plessis wat onkant gespeel het.
Al wat die Sharks vir ’n lang ruk darem gehelp het dat die Cheetahs nie soos ’n warmgemaakte, plat sportmodel hier oor die Vrystaatse vlaktes slegs ’n spikkel word nie, was Lambie se skopskoen.
Hy het net voor rustyd met ’n lang poging van net binne sy eie halfgebied geslaag en kort ná rustyd weer so gemaak.
Die tweede helfte was 12 minute oud toe die Sharks se as skielik ’n vlammetjie geword het.
Ná omgekeerde besit het die bal vanuit hul kwartgebied blitsig langs die lyn afbeweeg en in Lwazi Mvovo se hande beland.
Hy is een van daardie spelers wat iets uit niks kan skep en het 60 meter ver langs die kantlyn af ore platgetrek en homself ook uit ’n paar duikslae gewurm om te gaan druk.
Die Sharks het hiermee weer neus voorgekry en dit was die teken vir hulle om deur die ratte te beweeg.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
- Sport24