Sharks bult spiere teen Cheetahs
2011-02-19 19:09
Durban - Die Sharks het hul Super Rugby-veldtog Saterdag op 'n hoë noot afgeskop nadat hulle die Cheetahs met 24-9 op Mr Price Kings Park in Durban geklop het.
'n Drie deur die losvoorspeler Jacques Botes in die derde minuut het die Sharks vroeg reeds op die telbord geplaas. Hoewel die Cheetahs stewig vertoon het in die lynstane was dit die enigste faset van hul spel wat indruk gemaak het.
Swak taktiese skoppe en talle hanteerfoute het die Bloemfonteiners in die steek gelaat. In die skrums het die Cheetahs kwaai onder Craig Joubert se fluitjie deurgeloop.
Met Bismarck du Plessis se drie in die 66ste minuut van 'n rolmaalbeweging was die skrif aan die muur vir die besoekers. Die Sharks het eenvoudig te veel skietgoed voorlangs gehad. Kaptein John Smit is dalk nie so erg deur die Sharks gemis nie, maar die leemte wat die afwesigheid van Juan Smith as kaptein gelaat het is duidelik by die Cheetahs bespeur.
Puntemakers:
Sharks:
Drieë: Jacques Botes, Bismarck du Plessis Doelskoppe: Patrick Lambie (1) Strafskoppe: Patrick Lambie (4), Jacques-Louis Potgieter (1)
Cheetahs:
Strafskoppe: Naas Olvier (3)
Aanstaande week speel die Cheetahs teen die Bulls terwyl die Sharks Saterdag teen die Blues in Durban uitdraf.
- Volg Nuus24Sport op Twitter.
- Nuus24
Neem hieronder deel aan ons meningspeiling oor die kommentators in hierdie wedstryd:
Stem
Hoe sou jy Gary Boshoff se kommentaar beskryf in dié kragmeting?
Stem
Hoe sou jy John van Rensburg se kommentaar beskryf in dié kragmeting?