Schalk terug as Stormers-kaptein
2012-01-23 20:54
Kaapstad – Die Springbok-flank Schalk Burger sal die Stormers se kaptein wees in Vrydag se opwarmingswedstryd teen die Lions op Nuweland.
Allister Coetzee, Stormers-afrigter, het Maandag gesê hy werk tot by ‘n punt waar die sterkste moontlike span Vrydag kan uitdraf.
“Ons het ons eerste wedstryd gehad waarin al die jong spelers ‘n kans gehad het om te speel, maar die wedstryd teen die Lions gee ons ‘n kans om met ‘n ander span te speel – een wat baie verskillende soort uitdagings sal hê as die span wat teen die Boland Kavaliers gespeel het,” het Coetzee gesê.
“Ons wil graag wedstryd-tyd vir soveel as moontlik spelers gee sodat almal die vaste fasette, die styl van aanval en die strukture om die verdediging in top-vorm te hou kan verstaan.”
Volgens Coetzee het die vertoning van die eksperimentele span wat die naweek teen Boland uitgedraf het, gewys die span se kondisioneringsprogramme was suksesvol.
“Dit was ‘n goeie wedstryd, in die opsig dat dit getoon het al die kondisioneringswerk is goed gedoen,” het hy gesê.
“Nou is dit ‘n kwessie van opbou en die spandinamiek verstaan en kombinasies regkry.
“Soos alle afrigters wil ek vooruitgang sien van een week na die volgende en dit was duidelik ná Saterdag se wedstryd dat daar nog baie werk is om te doen.
“Die Lions sal taai teenstand bied en ons moet onthou dat hulle die Curriebeker-kampioene is.”
Coetzee het die grootste deel van sy groep van 51 spelers Maandag by ‘n oefensessie laat oefen.
“Ons het die punt bereik waarop ons ‘n span in die veld wil stoot wat so na as moontlik is aan die span wat sal speel in die eerste Super Rugby-wedstryd teen die Hurricanes in Februarie,” het hy gesê.
“Andries Bekker en Duane Vermeulen sal oor so twee weke weer aan kontaksessies kan deelneem, terwyl Rocky [Reinhardt] Elstadt weer volgende week voluit sal oefen.
“Die skrumskakel Dewaldt Duvenage het begin hardloop en soos dinge nou lyk, behoort hy binne twee weke gereed te wees.”
Coetzee het gesê hy en sy eweknie van die Lions, John Mitchell, het die moontlikheid bespreek om twee wedstryde met A- en B-spanne te speel, maar slegs een wedstryd kan gespeel word.
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA