Schalk nie skuldig aan vuilspel
2011-10-18 15:11
Kaapstad – Die Springbok-losvoorspeler Schalk Burger is Dinsdag van vuilspel vrygespreek nadat hy in die WP se Curriebeker-kragmeting met die Pumas in Kaapstad, uitgewys is vir 'n gevaarlike duikslag.
Burger is Saterdag uitgewys toe hy die Pumas se plaasvervanger-slot, JP Mostert, laat in die tweede helfte met 'n harde slag neergetrek het.
Die besoekers se breier Jimmy Stonehouse, wat die voorval gebruik het as 'n voorbeeld van hoe skeidsregters groter unies voortrek, het gekla dat Burger nie sy arms in die beweging gebruik het nie.
Maar 'n tugkomitee het hom vrygespreek.
Afskoptyd vir Saterdag se Curriebeker-halfeindstryd tussen die Goue Leeus en Westelike Provinsie in Johannesburg is om 17:00.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24