Schalk Brits ’n moet vir Springbokke
2010-04-19 07:17
Hendrik Cronjé
Bloemfontein - Schalk Brits is ’n moet vir die Springbokke in 2011 se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Nieu-Seeland.
Só sê die afrigter van Saracens, Brendan Venter, nadat Brits Saterdag op Wembley as speler van die wedstryd in sy span se sege van 37-18 oor Harlequins in ’n Engelse Premierliga-kragmeting aangewys is.
Die 28-jarige Brits, wat die Bokke nog net in drie toetse verteenwoordig het, het Saterdag die aanvoorwerk vir Andy Saull se twee drieë gedoen en ook self ’n drie vir Saracens gaan druk.
“Schalk moet een van die drie voorste hakers ter wêreld wees,” het Venter aan mailonline.co.uk gesê.
“Hy is ongetwyfeld die talentvolste haker met die bal in die hand en as ’n verdediger. As ek die Suid-Afrikaanse afrigter was, sou daar nie twyfel (oor sy insluiting) bestaan het nie. Hy het iets wat jy nie kan afrig nie; hy is spesiaal.
“Hy moet eenvoudig Wêreldbeker toe.”
Selfs die voormalige Ierse agterspeler en deesdae afrigter van Harlequins, Conor O’Shea, was beïndruk.
“Hy is ’n ongelooflike rugbyspeler en tel tussen die bestes ter wêreld. Hy kan aftrap, het vaart en is oral op die veld. Hy is een van die beste oorsese rugbyspelers wat gekontrakteer is,” sê O’Shea.
Brits kon waarskynlik nie sy goeie peil op ’n beter tyd gewys het nie, aangesien Peter de Villiers, die Bok-breier, sekere oorsese sterre vir 5 Junie se toets teen Wallis in die Millennium-stadion oorweeg.
De Villiers was juis die breier wat Brits vir sy drie toetse gekies het nadat die vorige Bok-afrigter, Jake White, nie in Brits se dienste belang gestel het nie.
“Jake White het John Smit as sy kaptein en haker gehad. Hy was ’n goeie afrigter en het sy redes gehad. Ongelukkig was ek nie deel van sy planne nie.”
Brits, wat selfs onlangs deur die Engelse kaptein Steve Borthwick as “ongelooflik” bestempel is, is baie nederig oor sy sukses.
“Ek doen so-so, is al wat ek op die oomblik kan sê,” het Brits aan mailonline.co.uk gesê. En oor sy kanse om weer die Bokke te verteenwoordig, het dié haker gesê: “Jy bly altyd hoopvol.”
Hy het Saracens reeds in 28 wedstryde verteenwoordig en 7 drieë gedruk.
Nog ’n aanspraakmaker op ’n plek in die Bok-span teen die Rooi Drake in Cardiff, Butch James (losskakel), behoort vandeesweek tot die Bath-span terug te keer. James het onlangs ’n enkel in Bath se wedstryd teen die Sale Sharks beseer.
- Volksblad