Saru 'verdien goue met Baai-toernooi'
2011-12-12 08:30
Port Elizabeth – Sewesrugby sal teen 2016 ’n Olimpiese sportsoort wees, maar die eerste goue medalje is reeds die naweek hier met die aanbieding van die “Madiba”-sewes losgeslaan.
Dit behoort aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), wat in samewerking met die Internasionale Rugbyraad (IRR) ’n toernooi aangebied het wat dié weergawe van rugby se groeiende status gestand gedoen het.
Die nagenoeg 40 000 mense wat deur die Nelson Mandelabaai-stadion se hekke gestroom het, het beter as Blitsbok-trane in die doodsnikke van die eindstryd verdien. Tog sal dít nie afbreuk doen aan wat in die geheel ’n puik toernooi was nie.
Benewens SA ondersteuners se geesdrif, het die geriewe wat aan al 16 spanne beskikbaar gestel is, insluitend die kleedkamers, ’n gemeenskaplike ontspanningsgebied en dieetkundiges, ’n nuwe standaard vir die reeks gestel.
Dié besonderse toernooi het ook nie die aandag van die IRR se hoof van ontwikkeling, Mark Egan, ontglip nie. “Sewesspelers moet as Olimpiese atlete behandel word, want teen 2016 is dit inderdaad wat hulle gaan wees. Hulle moet die toepaslike geriewe hê en hierdie toernooi was beroepspelers waardig,” het Egan gesê.
“Daar sal teen die einde van dié reeks sewesrugby in 140 lande en 15 tale uitgesaai wees.”
Egan het ook die sluier gelig oor die mate waartoe die blits-weergawe van die spel nou wêreldwyd uit sy nate bars. “Die kykersgetalle klop die Drienasies- en Sesnasies-reekse jaarliks.
“Saru is tevrede met die bywoningsyfer – en dis beslis nie sleg as in ag geneem word dat dit die eerste keer is dat dit in Port Elizabeth aangebied word nie. Die dekking op SuperSport was ook besonder goed.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg