Saru ontken berigte oor boikot
2012-02-12 20:05
Kaapstad – Suid-Afrika se vyf Super Rugby-spanne het nié gedreig om die kompetisie te boikot nie, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Sondag gesê.
‘n Koerantberig het beweer die boikot-dreigement was deel van ‘n brief van die vyf franchises aan Oregan Hoskins, president van Saru.
“Geen dreigement van ‘n boikot is gemaak nie,” het Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, gesê. “Die franchises het dit egter duidelik gestel dat die enigste opsie vir hulle is om Vodacom Super Rugby uit te brei.
“Hulle het ook beloof om die Kings se insluiting in 2013 te ondersteun, asook Saru se pogings om Sanzar te oortuig om ‘n sesde Suid-Afrikaanse span by die kompetisie in te sluit.”
Die brief lui:
“Ná lang gesprekvoerings tussen die franchises het ons eenparig besluit dit is noodsaaklik:
- Dat só ‘n insluiting Suid-Afrikaanse rugby in die algemeen sal baat;
- Dat geen van die bestaande franchises op enige manier deur só ‘n insluiting benadeel sal word nie;
- Dat geen van die bestaande franchises in 2013 of in enige stadium daarna uit die toernooi geëlimineer sal word weens die insluiting van die Kings nie;
- Dat Saru, as bewaarder van die Suid-Afrikaanse been van die toernooi, sal verseker dat die Kings ingesluit word sonder om enige van die bestaande franchises te benadeel.
“Die bestaande franchises is van voornemens om alle nodige bystand te bied en Saru te ondersteun in sy onderhandelings met Sanzar om die insluiting van ‘n sesde Suid-Afrikaanse franchise van 2013 af te verseker.”
Roux het gesê Saru sal voortgaan met gesprekke met die Sanzar-vennote oor deelname aan die 2013-toernooi.
‘n Besluit oor hoe Suid-Afrika se spanne vir die kompetisie in 2013 geïdentifiseer sal word, is in Januarie uitgestel. ‘n Spesiale algemene raadsvergadering het die besluit uitgestel tot die Jaarlikse Algemene Vergadering van Saru op 31 Maart, om meer tyd vir gesprekke met Sanzar toe te laat.
- Volg Nuus24Sport op Twitter