Saru maak sewesgroep bekend
2011-10-31 20:02
Kaapstad – Saru het ‘n groep van 23 Springbok-Sewesspelers bekendgemaak wat nou met volle voorbereiding vir die opkomende HSBC Sewes-Wêreldreeks sal begin by hul basis in Stellenbosch.
Stephan Dippenaar, senter van die Blou Bulle wat van sy provinsiale kontrak vrygestel is en wat verlede week ‘n ooreenkoms van twee jaar met die Springbok Sewesspan onderteken het, is een van vier nuwelinge in die groep. Die ander nuwelinge is Reuben Johannes (haker, WP 0/21), Cornal Hendricks (veelsydige agterspeler, Boland Kavaliers) en Dirk Dippenaar (vleuel, Tukkies).
Cecil Afrika, die IRR-sewesspeler van die jaar, is een van vyf beseerde spelers wat by die groep ingesluit is en met hul rehabilitasie sal voortgaan onder die wakende oog van die spanbestuur. Die ander beseerde spelers is Branco du Preez (enkel), Craig Barry (bekken), Tshotsho Mbovane (knie) en Pieter Engelbrecht (enkel).
Robert Ebersohn, senter van die Vrystaat Cheetahs en ‘n voormalige gekontrakteerde SA Sewesspeler, maak sy terugkeer na die span deur ‘n ooreenkoms tussen Saru en die Cheetahs.
Die Sharks Lubabalo Mtembu, Paul Jordaan en Sibusiso Sithole is by die span ingesluit, maar is onbeskikbaar.
Die span het vroeër Dinsdag in Stellenbosch saamgetrek en Paul Treu, afrigter, het gesê hy is verheug om weer die volle groep bymekaar te hê. “Dit was goed om hulle almal weer saam te sien, aangesien heelwat van hulle by die Curriebeker betrokke was. Jy kon onmiddellik die opwinding en energie aanvoel en ons sal nou hard werk om toe te sien dat ons goed voorbereid is vir wanneer ons op 18 November na Australië vertrek.”
Die groep is:
Voorspelers: Chase Minnaar, Kyle Brown, Frankie Horne, Chris Dry, Neil Powell, Boom Prinsloo, Reuben Johannes, Cornal Hendricks, Dirk Dippenaar, Pieter Engelbrecht.
Agterspelers: Paul Delport, Cecil Afrika, Branco du Preez, Steven Hunt, Renfred Dazel, Bernado Botha, Mark Richards, Craig Barry, Tshotsho Mbovane, William Small-Smith, Stephan Dippenaar, MJ Mentz, Robert Ebersohn.
- Volg Nuus24 op Twitter