Saru maak doodseker volkslied sal nie weer verleentheid wees
2010-06-10 07:07
Burger
Kaapstad – Dis nie net die Springbokke en Bafana Bafana wat vandeesweek onder groot druk is nie.
Met die reggae-sanger Ras Dumisani se omstrede weergawe van Suid-Afrika se volkslied voor verlede jaar se rugbytoets teen Frankryk in Toulouse nog vars in die geheue, is Suid-Afrikaanse oë vandeesweek vierkantig op die Ayford-broers, wat deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gevra is om die volkslied Saterdag op Nuweland te sing.
Die Bokke het die Toulouse-toets ná die swak volkslied in Toulouse met 13-20 verloor, maarFeargus Ayford het gister die versekering gegee dat Suid-Afrikaners vandeesweek geen rede tot vrees het nie.
“Ons is baie opgewonde oor die geleentheid en is 100% seker daar sal nie weer so iets gebeur nie. Ons verstaan die druk. Dit geld ons én die Bokke,” het Ayford gister gesê.
Ayford (23) en sy broer Rowan (23) is onderwysers by onderskeidelik Klein Nederburg Sekondêr in die Paarl en Esselen Park Sekondêr in Worcester. Musiek is egter albei se passie.
Saru het ook bevestig dat die duo Jovan en Thelma die Franse volkslied sal sing. Hulle het selfs vir Franse lesse gegaan.
Met verskeie Franse regeringsamptenare vandeesweek in die Kaap vir môreaand se Wêreldbeker-sokkerwedstryd teen Uruguay en Saterdag se rugbytoets teen die Bokke, is daar groot druk op Saru om te sorg dat die Franse volkslied goed gesing word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger