Sarpa help spelers ophef
2010-05-05 08:39
Marco Botha
Kaapstad - Die toekomsvooruitsigte van plaaslike rugbyspelers, wat reeds op ’n jong ouderdom beroepskontrakte met unies gesluit het, is iets wat weens ’n gebrek aan naskoolse opleiding baie maklik in onsekerheid gedompel kan word.
Juis hieroor het die Suid-Afrikaanse Rugbyspelersvereniging (Sarpa) einde verlede jaar onder 97 plaaslike beroepspelers, onder wie Springbokke, navorsing gedoen.
Volgens Piet Heymans, Sarpa se uitvoerende hoof, het Suid-Afrika en Nieu-Seeland elk nagenoeg 600 beroepspelers, teenoor Australië se 150.
Hoewel die lande sosio-ekonomies baie verskil, het net 18,8% van Suid-Afrikaanse spelers grade, terwyl die Aussies teen 2008 met 79% kon spog.
Voorts is 58,3% van die land se beroepspelers se hoogste kwalifikasie matriek.
In die lig hiervan, met die Boland as die eerste “proefkonyn”, het Sarpa ’n welvaart-bestuurskursus van vyf weke onder gewillige spelers van stapel gestuur.
“Jy kry ’n basiese kwalifikasie wat jou die dag wat jy ophou speel ’n voet in die deur gee by enige instansie wat onder die FDR (Finansiële Diensteraad) resorteer,” het Heymans gesê.
“Ons wil meer suksesvolle ouens soos Bismarck du Plessis (makelaar) in Suid-Afrika hê. Wanneer hy by die Sharks klaar geoefen het, trek hy sy pak klere aan om kliënte te gaan sien,” het Heymans gesê.
Maar hy meen Suid-Afrika se Sanzar-vennote is hom ver voor. “Australië het al 10 jaar gelede fondse (van die regering en Australiese Rugby-unie) gekry om sy spelers vir ’n lewe ná rugby voor te berei.
Teen 2008 was 79% van Australiese oud-rugbyspelers in die beroep van hul keuse en 85% gelukkig met die lewe ná hul uittrede.”
As deel van Nieu-Seeland se professionele ontwikkelingsprogram het dié land reeds in 2001 by elke Super-rugbyspan ’n “professionele ontwikkelingsbestuurder” aangestel, wat seker maak dat die spelers onder meer suksesvol studeer terwyl hulle heeltyds rugby speel.
Dat net sowat ’n vyfde van Suid-Afrikaanse beroepspelers tans tersiêre opleiding ontvang, gee straks aanleiding daartoe dat net minder as die helfte weet wat hulle ná hul rugbyloopbane wil doen.
Danré Gerber, ’n Bolandse agterspeler en seun van die oud-Springbok Danie, volg tans Sarpa se kursus, en hieroor het hy aan Sport24 gesê: “Ek gaan nog ’n graadkursus doen, maar vir nou vind ek hierdie kursus baie interessant.
“Hoewel dit op ’n lewe ná rugby gemik is, help dit ook om as speler ’n mens se geldsake beter te bestuur.”
Oor die tyd ná ’n rugbyloopbaan het Danie Gerber gesê: “Rugby is ’n kort en onseker loopbaan. Vir ouens by klein unies sou ek aanraai om hul salarisse met nog werk of kwalifikasies aan te vul.
“Maar dit is die groot unies wat my die meeste bekommer. Hulle kontrakteer hordes jong spelers, maar net ’n handjievol speel uiteindelik suksesvol beroepsrugby.
En as die ander hulle weer kan kry, sit hulle sonder enige kwalifikasie. Daarom moet ’n mens altyd iets hê om op terug te val.”
In Amerika het ’n interessante voorval hom verlede maand afgespeel, volgens bleacherreport.com. Die NFL, die voorste Amerikaanse voetbal-liga, trek jaarliks in hierdie tyd jong spelers vanuit die land se beste universiteitspanne.
Myron Rolle van die Florida State University was verlede jaar bo-aan hierdie keurlys, maar het dit vanweë ’n Rhodes-beurs om aan die Oxford-Universiteit verder te studeer, van die hand gewys.
Ná sy dae as speler wil hy ’n breinchirurg word. Maar vanjaar het die aanvraag na dié begaafde speler getaan, aangesien sy “vlak van toewyding aan die spel” bevraagteken word.
Volgens Heymans was dit sommige SA rugbybase se houding toe die akademiese opheffing van spelers aan hulle voorgehou is.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24