Sanzar sê nee vir Rassie se reeks
2010-07-22 14:22
Johannesburg - Sanzar het gesê hulle sal nie Rassie Erasmus se voorgestelde Internasionale Superrugby-toernooi, wat op die Indiese Premierliga geskoei is, ondersteun nie.
Die uitvoerende hoof van Sanzar, Steve Tew, het gesê daar is met lede van dié konsortium vergader, om die konsep van die kompetisie beter te verstaan. En ook omdat Sanzar ten gunste is van nuwe idees wat rugby in Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië kan bevorder.
"Ons is toe gesê dat ons 'n formele voorlegging sal ontvang wat toe nooit gebeur het nie," het Tew gesê.
"Na ons die konsep oorweeg het en die manier waarop dit ontwikkel is in aanmerking geneem het, het Sanzar egter besluit om nie aan enige verdere samesprekings oor die kompetisie deel te neem nie," het hy bygevoeg.
Tew het gesê die moontlikheid van 'n Twintig20-rugbytoernooi is met verskeie Superrugby-spanne bespreek.
Die meeste van die terugvoer wat Sanzar ontvang het, was negatief as gevolg van die impak wat dit op spanne se voorbereiding vir die Superrugby-seisoen in 2012 sal hê.
"Ons sien geen voordele wat so 'n toernooi vir Sanzar kan inhou nie. En wil ook ons teleurstelling uitspreek oor die feit dat spelers oor die kompetisie genader is, sonder om die rugbyunies vooraf in kennis te stel," het Tew gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24