Samoa blameer drank vir WB-ellende
2011-10-27 13:01
Apia – In ’n verdoemende verslag aan Samoa se eerste minister, het dié land se rugbykaptein, Mahonri Schwalger, sy span se mislukking in die Wêreldbeker-toernooi toegeskryf aan ’n gebrek aan professionaliteit en ’n kultuur van alkohol-misbruik by die spanbestuur.
Volgens die verslag, wat deur Schwalger aan die eerste minister, Tuilaepa Malielegaoi, voorgelê is, het die spelers glo tydens die toernooi in Nieu-Seeland gedreig om hul goed te vat en te loop oor die houding van die spanbestuur.
Die spelers het besluit om te bly eers nadat hulle daaraan herinner is dat die Samoaanse inwoners sonder kos moes bly om geld te skenk sodat die span in Nieu-Seeland kon wees.
Samoa het hoë verwagtinge gehad nadat hy in die 1990’s drie keer die uitkloprondes gehaal het. Vanjaar het hy slegs derde in sy groep geëindig.
Schwalger beskuldig die senior beamptes daarvan dat hulle die toernooi as ’n “groot vakansie” beskou het.
Hy sê die spanbestuurder, Tuala Mathew Vaea, “het soms vir twee of drie dae verdwyn en het ook elke liewe dag gedrink”.
Die verslag het Dinsdag op die webblad van die Sunday Samoan verskyn.
Die onder-voorsitter van die Samoaanse Rugbyunie, Lefau Harry Schuster, was net daar om hom saam met sy vriende te geniet, terwyl die uitvoerende hoof, Su’a Peter Schuster, “sy vriende en raadslede na die hotel gebring het om die heeltyd te drink”.
– Beeld
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP