‘Gekleurde spelers soek nie kwotas’
2010-09-21 09:27
Kaapstad - Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) moet dit oorweeg om sy kompetisiestrukture aan te pas om seker te maak dat veral belowende gekleurde spelers nie tussen o.21- en senior vlak “wegraak” nie.
Dít was Maandag die pleidooi van die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyspelersvereniging (Sarpa), Piet Heymans.
“Die spelers se posisie is dat hulle gelyke geleenthede wil hê. As hulle goed genoeg is, wil hulle speel.
Geen speler wil as ’n kwotaspeler bekend staan nie en almal wil op verdienste daar wees,” sê Heymans.
“Gekleurde spelers is nie ten gunste van kwotas nie.
“Hul pleidooi is vir gelyke speelkans en speeltyd.
“Saru moet kreatief wees met die kompetisie-strukture en kyk of daar ’n manier is om die oorgang van junior na senior vlak makliker te maak.
“Die groter provinsies moet ook gewilliger wees om oortollige spelers aan kleiner unies te leen.
Dit gebeur reeds tot ’n mate, maar die stelsel kan nog beter gebruik word.”
Sport24 verneem die Vodacombeker-reeks sal nog volgende jaar soos gewoonlik gespeel word, maar dit is moontlik dat daar vanaf 2012 ’n ouderdomsperk in dié reeks kan geld.
Dit moet egter nog behoorlik deur beamptes onder die loep geneem word.
’n Moontlikheid is om die Vodacombeker ’n o.23-kompetisie te maak, terwyl daar ook ’n denkrigting is dat dit eerder moet plek maak vir ’n super-klubkompetisie.
“Dit help nie Saru kritiseer die provinsies nie.
Saru, as die nasionale beheerliggaam van rugby, het die vermoë om iets aan dié kwessie te doen.
Die vraag is net of die leierskap die deursettingsvermoë het om dit daadwerklik aan te pak,” sê Heymans.
Hy voel ook dit is belangrik om spelers se verwagtinge te bestuur.
“Spelers het hoë verwagtinge en wil nie noodwendig ’n jaar of twee wag vir ’n kans nie.
“Hulle wil dit onmiddellik hê. Daar moet moontlik na ’n leensituasie gekyk word; of ’n speler moet klubrugby speel met die verstandhouding dat hy beslis in die toekomsplanne is,” sê hy.
“Kommunikasie en eerlikheid is baie belangrik in die bestuur van ’n speler se verwagtinge.
“As ’n speler weet waar hy in die toekoms kan inpas en wat hy moet doen om daar te kom, dra dit baie daartoe by om te verseker dat spelers nie moedeloos raak en ophou rugby speel nie.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24