SA se oë op Brumbies
2011-06-13 06:58
Kaapstad - Suid-Afrika se hoop om drie spanne in die uitspeelwedstryde van die Super Rugbyreeks te hê, is in die Brumbies se hande.
Die Bulls en Sharks is onderskeidelik vyfde en sesde op die puntelys, maar speel Saterdag op Loftus Versfeld teen mekaar.
Albei spanne sal met die afskop presies weet wat hulle te doen staan om te kwalifiseer, want die Waratahs en Brumbies meet vroeër in Sydney kragte. Die Waratahs is sewende – een ligapunt agter die Bulls en Sharks – en sal die Suid-Afrikaanse spanne verby steek as hulle die Brumbies klop.
Die kanse is uiters goed dat die derby in Pretoria op ’n uitspeelwedstryd sal neerkom, behalwe as die Brumbies teen die verwagting in met die Waratahs afreken.
Hoewel die Brumbies ’n nagmerrie-seisoen beleef, is daar faktore wat hulle dryfkrag sal gee. Die spelers sal indruk op die voormalige Springbok-afrigter Jake White wil maak voordat hy die Brumbies-leisels neem en begin kontrakte uitdeel. Dan is plaaslike Australiese trots ook op die spel.
Die Reds is reeds verseker van die eerste plek in die Australiese groep, terwyl dit byna ’n uitgemaakte saak is dat die Stormers die Suid-Afrikaanse groep gaan wen.
Op hul beurt het die Crusaders met die naweek se sege oor die Blues die voortou in die Nieu-Seelandse groep geneem. Die Nieu-Seelandse wenner sal in die laaste ronde bepaal word, met die Blues wat Vrydag teen die Highlanders in Auckland speel en die Crusaders en Hurricanes wat Saterdag in Wellington koppe stamp.
Die Stormers en hul ondersteuners sal Saterdagoggend luidkeels die Chiefs aanmoedig. Hoewel dié Kiwi-span die Kapenaars vanjaar hoofbrekens besorg het, kan die Stormers nog die eerste plek op die algehele puntelys kaap as die Reds nie ligapunte in Hamilton kry nie.
Sou die Chiefs die Stormers ’n groot guns bewys deur die Reds te klop, moet die Kapenaars nog met die Cheetahs in Bloemfontein afreken vir die moontlikheid van die eerste plek op die puntelys.
Met die uitsondering van ’n tweede Aussie-derby – tussen die Melbourne Rebels en die Western Force – behoort daar in ses van die sewe wedstryde baie op die spel te wees.
Die Suid-Afrikaanse spanne is in die gunstige posisie omdat hulle met die afskop presies sal weet wat hulle moet doen om hul doelwitte te bereik.
Volgens dié reëls sal die groepwenners uit elk van die drie lande outomaties in die eerste, tweede en derde plek kwalifiseer. Die derde span op die puntelys speel tuis in ’n kwarteindstryd teen die sesde span. Die vierde en vyfde spanne pak mekaar op vier se tuisveld.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
- Sport24