SA moet Noord kyk, sê Griffiths
2011-11-11 09:04
Kaapstad – Suid-Afrika moet dit oorweeg om sy internasionale rugby voortaan hoofsaaklik in die Noordelike Halfrond te speel.
Dit was een van die sterk onderliggende temas uit die geledere van Saracens toe daar gister in die Moederstad aangekondig is dat dié Engelse klubspan op 14 Januarie hier in die Kaapstad-stadion met Biarritz in ’n Heinekenbeker-wedstryd kragte sal meet.
“Dié wedstryd baan die weg vir ’n verhouding tussen Suid-Afrikaanse rugby en die Heinekenbeker-reeks,” het Saracens se uitvoerende hoof, Edward Griffiths, gister uit Londen gesê.
“Die Heinekenbeker-reeks het die potensiaal om die sterkste provinsiale reeks ter wêreld te word.
“Dit sal interessant wees om te sien of sekere Suid-Afrikaanse spelers, provinsies, afrigters en selfs ondersteuners meen dit kan meer kommersiële moontlikhede bied en ook dat die reislas van suid na noord makliker as van wes na oos sal wees.” Een van Suid-Afrika se groot probleme in die Sanzar-alliansie is juis die lang toere na Doer Onder en die gepaardgaande vlugflouheid.
Daar is ook topspelers wat bekommerd is dat Super Rugby van aanstaande jaar af tot vroeg in Augustus strek. Daar is wel in Junie ’n blaaskans, maar dit is om tyd vir toetse in te ruim.
Die Rugby-kampioenereeks (uitgebreide Drienasies-reeks) begin boonop op 18 Augustus.
Morné du Plessis, ’n voormalige Springbok-kaptein en direkteur van Saracens, meen die wedstryd in Januarie kan ook gesprekke uitlok oor die belangrikheid van ’n globale rugbyseisoen.
“Rugby worstel al lank oor die kwessie van spelerswelvaart omdat daar te veel gespeel word.
“Die antwoord is om wêreldwyd in dieselfde seisoen te speel,” sê Du Plessis.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24