SA blaser se kop rol
2010-04-05 07:18
Hendrik Cronjé
Bloemfontein - Skeidsregterbase duld geen nonsens meer van fluitjieblasers wat in groot rugbywedstryde kleitrap nie.
Eers moes Paul Marks van Australië hoor hy sal nie weer as fluitjieblaser in 2010 se Super14-reeks optree nie, waarna een van Suid-Afrika se voorste skeidsregters, Marius Jonker, die naweek verneem het hy het ’n duur prys vir sy sukkelvertoning in die Sesnasies-toets tussen Skotland en Engeland in Edinburg betaal.
Nadat die Internasionale Rugbyraad (IRR) se skeidsregterbase onlangs in Dublin vergader het oor die aanstellings vir toetse van Junie tot September 2010 moes Jonker verneem hy sal slegs in die Nasiesbeker-toernooi blaas waarin lande soos Roemenië en Georgië meeding.
Jonker se naam sal minstens vir die volgende ses maande op die IRR se A-lys verskyn.
’n Suid-Afrikaanse skeidsregterbaas het gister aan Sport24 gesê Jonker is een van die Suid-Afrikaners wat tot dusver vanjaar goeie rekenskap van homself in die Super14-reeks gee.
Dié skeidsregterbaas glo Jonker het die vermoë om nog in baie groot toetswedstryde te blaas.
Die Herald berig intussen die IRR het op die vergadering in Dublin besluit dat Engeland se Chris White op 47-jarige ouderdom te oud is om voortaan in enige toetse te blaas.
Jonker is een van nege Suid-Afrikaanse skeidsregters wat deur die IRR as fluitjieblasers, grensregters of televisieskeidsregters vir toetse vanaf Juniemaand aangestel is.
Die ander is Jonathan Kaplan, Mark Lawrence, Craig Joubert, Jaco Peyper, Christie du Preez, Cobus Wessels, Shaun Veldsman en Johann Meuwesen.
Peyper sal ook in Junie se Junior Wêreldkampioenskap in Argentinië blaas. Twee groentjies wat deur die IRR aangestel is, Keith Brown van Nieu-Seeland en Andrew Small van Engeland, sal vanjaar in beheer van die Bok-toetse teen Italië wees.
Ander blasers vir Springbok-toetse:
Alan Lewis (Ierland, 5 Junie - Wallis, Millennium-stadion; 10 Julie - All Blacks, Auckland), Bryce Lawrence (Nieu-Seeland, 12 Junie - Frankryk, Nuweland; 24 Julie - Wallabies, Brisbane), Alain Rolland (Ierland, 17 Julie - Nieu-Seeland, Wellington; 28 Augustus - Wallabies, Pretoria), Nigel Owens (Wallis, 21 Augustus - All Blacks, Johannesburg) en Wayne Barnes (Engeland, 4 September - Australië, Bloemfontein).
– Sport24