Rugby na Groenpunt?
2011-11-10 09:07
Kaapstad – Die gesprek is aan die gang om Nuweland se Westelike Provinsie-rugbywedstryde na die Kaapstad-stadion te skuif.
Theuns Roodtman, uitvoerende hoof van die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU), het Woensdag met ’n enkele sin – “Ons is in gesprekke met die stad (Kaapse stadsraad)” – die kwessie van ’n skuif wat voorheen as ’n onmoontlikheid bestempel is, bevestig. Hy wou niks verder sê nie.
Grant Pascoe, burgemeesterskomiteelid vir toerisme, spesiale gebeurtenisse en bemarking, het hierop gesê die Kaapse stadsraad hoop dat WP-rugby in die Kaapstad-stadion gehuisves kan word.
“Dit is tawwe en eerlike gesprekke. Dit is nie ’n maklike besluit vir die WPRU nie. Daar is baie rolspelers. Nuweland is 100 jaar oud en daar is baie sentiment,” het Pascoe gesê.
Die stadsraad het aangedui hy gaan Donderdag ’n “historiese aankondiging” maak wat met internasionale rugby en die Kaapstad-stadion verband hou. Die aankondiging gaan ook per satelliet regstreeks in Londen uitgesaai word.
Sport24 berig dat dit verband hou met ’n wedstryd tussen Saracens en Biarritz in die Heinekenbeker-kompetisie.
Die WP se president, Tobie Titus, het Woensdagaand gesê sy unie is nie te vinde vir so ’n wedstryd in die Kaapstad-stadion nie. Só ’n wedstryd op Nuweland sou aanvaarbaar wees.
Die Britse media het reeds berig dat dié wedstryd die eerste in die Heinekenbeker-reeks gaan wees wat buite Europa (en in Kaapstad) gespeel gaan word.
Andy Colquhoun, kommunikasiehoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het gesê Saru het sy seën uitgespreek oor Saracens om die wedstryd hier te speel, maar omdat dit binne die grense van die WPRU val, moes die unie ook sý toestemming gee.
“Daar het niks in die grondwet van Saru verander nie. Vir elke wedstryd wat gespeel word, moet die unie in wie se gebied dit plaasvind, daartoe instem,” het Colquhoun gesê.
Die Burger verneem dat Morné du Plessis, voorheen betrokke by die Sail/Stade France-konsortium wat die stadion voor en ná die Wêreldbeker-toernooi sou bedryf, maar hom ná die toernooi aan die ooreenkoms onttrek het, by die onderhandelings met Saracens betrokke is.
Bewerings dat die WPRU in die Rugby-Kampioenereeks wedstryde van die All Blacks moes afstaan vir dié tussen die Springbokke en Argentinië, asook dat die groter Soweto-stadion vir die All-Blacks gebruik gaan word, is deur Colquhoun as “alles net bespiegeling” beskryf. “Ons het die wedstryde aangekondig en sal mettertyd bevestig waar dit sal plaasvind,” het hy gesê.
In die stadium het Nuweland plek vir 45 000 toeskouers, die Kaapstad-stadion vir 55 000 en die FNB-stadion in Soweto vir 90 000.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24