Ruan Pienaar se Ulster-kontrak verleng
2012-01-12 10:52
Kaapstad – Die veelsydige Springbok-agterspeler Ruan Pienaar het sy kontrak met die Ierse klubspan Ulster tot Junie 2014 verleng.
David Humphreys, Ulster se direkteur van rugby, het gesê Pienaar is 'n sleutelspeler in die span.
"Ons onderhandel sedert verlede jaar om Ruan te behou en ons is verheug dat hy gekies het om sy kontrak met ons te verleng."
Humphreys het gesê Pienaar was instrumenteel in die span se sukses sedert hy by hulle aangesluit het.
"Hy is 'n ware wedstrydwenner."
Pienaar, wat verlede jaar deel van Suid-Afrika se wêreldbekerspan was, het al 51 keer in die Bok-trui uitgedraf en het in 2006 in die Drienasies-wedstryd teen Nieu-Seeland sy toetsbuiging gemaak.
Hy het aan die begin van die 2010/11-seisoen die Sharks vaarwel toegeroep en by Ulster aangesluit. Die Bloemfonteiner het op 1 Oktober 2010 sy buiging vir dié span teen die Glasgow Warriors gemaak en al die punte vir 'n 19-17 oorwinning oor die Skotse opposisie aangeteken.
Die skrumskakel Paul Marshall het ook sy kontrak met die klub tot 2014 verleng.
"Skrumskakel is so 'n belangrike posisie in die span dat elke span twee kwaliteitspelers in dié posisie benodig en ons is bly dat albei gekies het om by Ulster aan te bly," het Humphreys gesê.
– Lees meer hier
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg