Rory Kockott word óók ’n Leeu
2010-12-15 22:47
Johannesburg - Rory Kockott kom "huis toe".
Dié 24-jarige skrumskakel speel aanstaande jaar weer vir die Leeus nadat hy in 2006 sy eersterangse buiging vir die Leeus teen die Haaie gemaak het.
Hy het in 2007 na Durban verhuis en is een van verskeie Haaie wie se paaie terug Goudstad toe lei.
Die afgelope Curriebeker-seisoen het hy in die skadu van Ruan Pienaar en Charl McLeod gespeel en daar is al geruime tyd sprake dat sy speeldae by die Haaie iets van die verlede sou wees.
Kockott het nie sy kontrak met die Durbaniete verleng nie en volgens Brian van Zyl, die uitvoerende hoof, het Kockott eers die afgelope dag of twee sy heenkome by die Leeus gevind.
“Hy was vandeesweek by ons en het gesê hy kan niks (by die Leeus) uitrig nie en of ons hom nie kan help nie.
“Ons was van plan om sy kontrak met nog ses maande te verleng, maar die Leeus het skielik laat weet hulle sal hom kontrakteer,” sê Van Zyl.
Die Haaie het, benewens McLeod wat ’n lid van die Springbok-span was wat teen die Barbarians gespeel het, ook Conrad Hoffman van die Westelike Provinsie se dienste verkry.
Kockott sal by die Leeus met Jano Vermaak en Michael Bondesio, wat nog tot die afgelope seisoen vir die Luiperds gespeel het, meeding om die nommer nege-trui.
Van Zyl het Woensdag gesê die Haaie wil nog ’n buitesenter van gehalte bekom.
Bly op hoogte van die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24