Rooibontes nou groot, sê Wikus
2011-10-28 09:30
Johannesburg. – ’n Curriebeker-eindstryd mag wel iets vreemds vir ’n Goue Leeus-rugbyspan wees, maar sy mees ervare speler, Wikus van Heerden, glo nie dit is ’n “jong” span wat die Haaie Saterdag die stryd gaan aansê nie.
Van Heerden het vanjaar as 32-jarige speler ’n merkwaardige transformasie van ’n flank na ’n slot ondergaan.
Hy sal hier op Coca-Colapark midde in die Leeus se fisieke aanslag teen die hoogaangeskrewe Haaie-agttal wees.
Met meer as 250 eersterangse rugbywedstryde agter die blad weet Van Heerden waarvan hy praat en hy kon jonger spelers in die span vandeesweek goeie raad gee.
“Dit is iets waaroor ons gepraat het. Ons is nie noodwendig meer so ’n jong span nie en is reeds deur die hele grootwordproses,” het Van Heerden gesê.
“Butch (James) het ook vandeesweek op die oefenveld vir die ouens gesê om dinge nie vooruit te loop nie en die wedstryd eers Saterdag te speel.
“Die ouens moet elke minuut van die week geniet, want soms neem ’n mens nie alles in tydens so ’n groot week nie.”
Van Heerden is die enigste lid van die Leeus-span wat ook in die vorige eindstryd in Johannesburg, in 2002 teen die Blou Bulle, gespeel het.
Hy het verlede jaar uit Engeland teruggekeer waar hy vir Saracens gespeel het en het sedertdien ’n groot bydrae vir die Leeus gelewer.
“Hierdie laaste jaar en ’n half was net ’n ongelooflike reis. Ek dink hierdie (eindstryd) is ’n gepaste beloning vir al die harde werk wat ons gedoen het.”
Van Heerden tree saam met ’n paar gesoute spelers in die Leeus-span aan.
Vier ander spelers in die 22-tal wat die Haaie sal aandurf, het al vir ander unies in eindstryde gespeel. Hulle is James (Haaie), CJ van der Linde en Alwyn Hollenbach (Vrystaat-Cheetahs) en Bandise Maku (Blou Bulle).
In die 22-tal wat môre speel, is die enigste spelers wat jonger as 24 jaar is Jaco Taute (20), Elton Jantjies (21), Martin Bezuidenhout (22) en Michael Rhodes (23).
Van Heerden, Van der Linde, Cobus Grobbelaar en James is almal 30 of ouer, met Doppies la Grange en Deon van Rensburg effe jonger.
En selfs die 28-jarige slot Franco van der Merwe spog al met meer as 200 eersterangse wedstryde.
John Mitchell, afrigter van die Leeus, het gesê die een eienskap wat hom die meeste opval, is die span se karakter.
“Ook hul (spelers) se vermoë om swaarkry te hanteer en om aan te hou opstaan. As ’n groep het ons vroeg al ’n verskeidenheid lesse geleer en dit baat ons nou.
“Ek dink die groep het volwasse geword en daar is groter spaneenheid.
“Dit help ook dat dieselfde mense (as afrigtingspan) en metodes gebruik is om bestendigheid te gee.”
Van Heerden het nietemin gewaarsku dat faktore soos ervaring net tot op ’n punt ’n rol speel in kragmetings soos dié eindstryd.
“Dit gaan oor die span. Al die ervare ouens moet hul deel doen. In ’n eindstryd is dit die span wat die graagste wíl wen, wat seëvier. Ek gaan my allerbeste lewer.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24