Robbie Kempson vry ná voorval in Bermuda
2012-11-14 14:59
Kaapstad – Die oud-Springbok Robbie Kempson is vrygelaat kort nadat hy in Bermuda in hegtenis geneem is ná 'n rugbywedstryd waarin 'n Amerikaanse rugbyspeler ernstig beseer is.
Kempson het saam met AJ Venter, Percy Montgomery en Henno Mentz in Bermuda aan 'n toernooi vir oud-spelers deelgeneem toe die voorval tydens 'n wedstryd tussen Suid-Afrika en die VSA plaasgevind het.
Die 38-jarige stut het glo van agter af teen die Amerikaanse losskakel Leif Gibson (34) se rug vasgehardloop in die 15de minuut van die kragmeting.
Tim Kluempers, die Amerikaners se spanbestuurder, het gesê Gibson sal waarskynlik weens dié besering nooit weer rugby kan speel nie.
Gibson het inmekaargesak en is na 'n nabygeleë hospitaal geneem. Kluempers kon nie meer besonderhede oor die erns van die besering verskaf nie, maar het gesê die losskakel het "sy rug ernstig beseer".
Volgens die plaaslike media is Kempson kort na die wedstryd in hegtenis geneem.
Toe Kluempers gevra is waarom die polisie die ongewone stap geneem het om 'n voorval te ondersoek wat tydens 'n wedstryd plaasgevind het, het Kluempers geantwoord dat dit die speler se besluit was.
"Hy het gesê as dit tydens spel in 'n duikslag of 'n losgemaal gebeur het, was dit aanvaarbaar, want dit is die kans wat ons vat. Maar die speler was nie deel van die spel toe hy van agter geduik is nie."
Intussen het Egon Seconds, voormalige WP- en Griekwas-speler, wat saam met die Suid-Afrikaanse span in Bermuda is, op sy Twitter-profiel gesê dat Kempson terug is by sy spanmaats nadat die saak teen hom uitgegooi is.
Suid-Afrika het die wedstryd met 43-10 gewen.
Lees die volledige storie hier.
Volg Nuus24 op Twitter.
– Royal Gazette