Reinach kan sy kans kry
2012-01-12 09:51
Johannesburg – Die nuwe rugbyjaar is skaars ’n week oud en die Sharks sit al klaar met ’n skrumskakel-krisis opgesaal.
Die ongeluksvoël Conrad Hoffmann sal minstens tien weke lank buite aksie wees nadat hy sy borsbeenspier geskeur het.
Hy het ook die laaste paar weke van die Curriebeker-seisoen weens ’n elmboogbesering misgeloop.
Nadat Ross Cronjé na die Goudstad saam met sy tweeling-broer, Guy, verhuis het, is daar skielik ’n skaarste aan skrumskakels by die Sharks.
Die Springbok Charl McLeod sal die eerste keuse wees, maar sonder Hoffmann en Cronjé, is die deur vir die seun van ’n voormalige Springbok-vleuel en ook Springbok-atleet, wyle Jaco Reinach, oopgemaak om sy kans te kry.
Cobus Reinach was verlede jaar ’n ster in die Sharks se o.21-span en groot dinge word vir hom voorspel.
Hoffmann se besering kan net die geleentheid wees waarvoor die jong Reinach gewag het.
Dit sal goed wees as hy ten minste in een van die Sharks se opwarmwedstryde ’n kans kry om sy slag te toon.
Die Fransman Frederic Michalak kan ook as skrumskakel gebruik word, maar hy is op pad Toulon toe en die Sharks sal hom nie te veel kan inspan nie.
Hoffmann is nie die enigste van die Sharks vir wie die nuwe jaar glad nie goed afgeskop het nie.
Die heelagter Louis Ludik het verlede week sy linkerbeen oopgesny toe hy op ’n apparaat in die gimnasium gegly het. Hy mag vandeesweek nie hardloop nie.
Ludik gaan juis in ’n stryd gewikkel wees met ’n aanwins van die Cheetahs en Griekwaland-Wes, Riaan Viljoen, om in die laaste vesting diens te doen.
Twee van die Sharks se ysters voorlangs, Willem Alberts (skouer) en Jean Deysel (knie), sal weens rehabilitasie die eerste fase van die Super-voorseisoen misloop.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24