Rassie wil 'ander geleenthede' oorweeg
2012-01-10 11:16
Kaapstad – Rassie Erasmus, direkteur van afrigting van die Westelike Provinsie, verlaat dié rugbyunie aan die einde van Januarie om ander geleenthede te oorweeg.
"Die stelsels is in plek by WP," het Erasmus Dinsdag in 'n verklaring gesê.
"My werk is grootliks afgehandel hier en daar is geen twyfel dat Allister (Coetzee), Matt (Proudfoot), Fleckie (Robbie Fleck), die res van die bestuur en die spelers die vermoë het om die silwerware te wen nie."
Oor die redes vir sy vertrek, het Erasmus gesê: "Daar is 'n aantal nuwe geleenthede wat op 'n hoër vlak opgeduik het en ek oorweeg tans my opsies. Elk van die geleenthede is opwindend en groot uitdagings. Vir my is dit 'n groot attraksie in die stadium van my loopbaan".
Erasmus het tydelik aangebied om steeds by WP uit te help wanneer dit nodig is en het gesê die Stormers, WP en die aanhangers sal altyd 'n spesiale plek in sy hart hê.
Rob Wagner, uitvoerende hoof van WP Rugby, het gesê die rugbyunie het gewag vir sy seniorspelers en spanbestuur om terug te keer om die aankondiging te maak.
"Rassie het 'n groot bydrae gelewer by WP. Ons is jammer om hom te verloor, maar verstaan sy begeerte vir nuwe uitdagings."
Wagner het gesê die vertrek van Erasmus is 'n groot verlies, maar hulle is vol vertroue dat die planne wat op alle vlakke in plek is, sterk genoeg is om die silwerware te verower waarna hulle werk.
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- Nuus24