Rassie sê nee vir Bok-pos
2011-10-25 07:02
Kaapstad – Rassie Erasmus en Allister Coetzee stel vir nou nie daarin belang om die Springbokke af te rig nie.
Erasmus, die Westelike Provinsie se senior professionele afrigter, word as ’n sterk kandidaat vir die Bok-breierspos genoem. Ditto Coetzee, die WP en Stormers se hoofafrigter.
Erasmus het Maandag gesê hy sal graag weer met die volgende Wêreldbeker-rugbytoernooi, in 2015, as ’n tegniese konsultant betrokke wil raak – net soos wat hy met die pas afgelope toernooi in Nieu-Seeland was.
“Ek sou al by die 2007-toernooi betrokke geraak het, maar dinge het toe anders uitgedraai. Ek het nou die kans gehad en wou regtig help om die beker te wen. Dit het ongelukkig nie so uitgewerk nie.
“Ek stel nie belang om by die direkte afrigting van die Bokke betrokke te raak nie, maar sal graag in 2015 weer op ’n tegniese basis wil help.”
Coetzee het gesê hy is tot einde volgende jaar by die WP gekontrakteer en dat hy buitendien nog “silwerware” in die Kaap wil wen.
Hy was nog redelik ontsteld nadat die WP Saterdag in die halfeindstryd van die Curriebeker-reeks teen die Leeus vasgeval het.
Tot watter mate hierdie breiers ’n ander deuntjie gaan sing sodra die aanstellingsproses om die Bok-pos begin warm raak, sal nog gesien moet word.
Voorts kan die WP se rugbybase ook moeilik raak, aangesien daardie aanstelling ’n invloed op die Stormers se voorbereiding kan hê.
Wat spelers betref, het die Blou Bul Gerhard van den Heever ’n kontrak van twee jaar met die WP gesluit. Dié proses is Vrydag afgehandel.
Van den Heever was die afgelope jaar minder doeltreffend as in sy debuutseisoen.
Bronne by die Bulle meen wel hierdie skuif na ’n nuwe omgewing is wat hy nodig het om uitsluitlik op sy spel te fokus en dit weer op dreef te kry.
Van den Heever het wel vroeër vanjaar ’n paar blink oomblikke as heelagter gehad – ’n posisie waarin die WP in Gio Aplon se afwesigheid baie yl is.
Die Kapenaars het tot onlangs probeer om die oud-Stormers-speler Joe Pietersen van sy kontrak met die Franse klub Bayonne los te kry.
Sport24 verneem wel dat die Franse Pietersen as kardinaal in hul planne vir die nuwe seisoen beskou en wil hom daarom nie vrystel nie.
Van den Heever se veelsydigheid kan dus vir Pietersen se afwesigheid vergoed. Dis ironies dat sy Kaapse skuif in alle waarskynlikheid met JJ Engelbrecht s’n Pretoria toe te doen het.
Erasmus het ook bevestig dat die Bok-senter Jaque Fourie in Japan vir die klub Panasonic gaan speel.
Hy sal vir die Stormers beskikbaar wees, maar hy’s klaar met Curriebeker-rugby.
Dit los die Kaapse sentertameletjie met Fourie, Jean de Villiers en Juan de Jongh tydens die Curriebeker-reeks op, maar maak Johann Sadie se skuif na die Bulle toe effens swaarder.
Erasmus het gesê hy sou dieselfde besluit weer neem. “Dit sou verkeerd gewees het as ek aan al Johann se versoeke voldoen het. Ek kon hom nie die nr. 13-trui waarborg nie, want Jaque en Juan wil ook die eerste keuse wees. Dis baie sleg om hom verloor, maar ek sou die span se dinamika ontwrig het as ek vir elkeen van die spelers gesê het wat hulle wil hoor.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24