Rassie-bom tref WP en Stormers
2012-01-10 07:06
Kaapstad – ’n Bom het in die Westelike Provinsie gebars met die nuus dat Rassie Erasmus as direkteur van afrigting by dié rugbyunie bedank het.
Erasmus se prokureur, Frikkie Erasmus, het dié skokverwikkeling Maandag by navraag aan Sport24 bevestig.
“Rassie kyk na ander moontlikhede. Daar is alternatiewe opsies, veral oorsee,” het Frikkie Erasmus gesê.
“Ek kan nie op die oomblik die redes vir sy bedanking gee nie.”
Erasmus het reeds die Stormers se bestuurspan oor sy besluit ingelig. Die Kaapse streekspan se oefengroep is vandeesweek op ’n oefenkamp op Hermanus.
Hy is al voorheen verbind met ’n posisie in die nuwe Springbok-bestuurspan, maar die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gaan eers weer op 27 Januarie oor die kwessie van ’n nuwe Bok-afrigtingspan kommentaar lewer.
Heyneke Meyer en Gert Smal word as die sterkste kandidate beskou om as hoofafrigter aangestel te word.
Erasmus het die Bokke by die afgelope Wêreldbekertoernooi as tegniese raadgewer bygestaan.
Ofskoon die Bokke in die kwarteindronde teen Australië verloor het, is sy tegniese kennis en ontledings hoog op prys gestel.
Dit sal net sin maak vir hom om permanent by Saru in te skakel, maar hy is glo nog nog nie in daardie verband genader nie.
Sport24 verneem daar is klubspanne in Engeland en Frankryk wat sterk na Erasmus se dienste vry.
Sy bedanking is ’n groot slag vir die WP.
Ofskoon hy sedert 2010 uit die kollig getree, maar steeds agter die skerms by die WP gewerk het, het hy ’n groot rol in die afrigting van die Kaapse unie se spanne en die vestiging van strukture gespeel.
Die uitwerking van sy bedanking op die Stormers en WP se spanne sal in die komende maande gemeet kan word.
Erasmus se bedanking volg op dié van sleutelspelers om hul loopbane elders voort te sit.
Die Springbok-senter Jaque Fourie het ’n yslike aanbod in Japan aanvaar, die flank Francois Louw is Bath toe en twee opkomende sterre – die senter Johann Sadie en die vleuel JJ Engelbrecht – het kontrakte met die Blou Bulle gesluit.
Erasmus het in 2008 as die Stormers se hoofafrigter begin en die Kaapse streekspan het toe vyfde geëindig en net-net nie die halfeindronde gehaal nie.
Hy het egter gesukkel om die genadelose druk in die kollig te hanteer en is toe as direkteur van afrigting aangestel.
Allister Coetzee is toe as hoofafrigter aangestel en het met Erasmus se hulp ’n eindstryd in 2010 en verlede jaar ’n halfeindstryd op Nuweland gehaal.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg