Rassie, Victor gaan Heyneke help slyp
2012-02-05 07:57
Johannesburg – Rassie Erasmus sal beslis Heyneke Meyer en die Springbokke se tegniese analis wees.
Dít is dieselfde rol wat Erasmus onlangs nog tydens die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland in Peter de Villiers se afrigtingspan vervul het.
Die groot verskil is egter dat Erasmus dié keer van die begin af voltyds saam met Meyer met die Bokke sal werk – en nie soos verlede jaar kort voor die Wêreldbeker gevra sal word om die kastaiings in die Bok-kamp se vuur te kom uitkrap nie.
Erasmus vergader vandeesweek met Meyer en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) oor sy kontrak en daar word geen probleme voorsien wat sal keer dat Erasmus pen op papier sal sit nie.
Intussen blyk dit ook steeds bykans ’n uitgemaakte saak te wees dat die nasionale sewes-afrigter, Paul Treu, gevra gaan word om hom aan te sluit by Meyer se afrigtingspan – met die oog daarop om Treu as toekomstige Springbok-afrigter te ontwikkel.
Hy sal nie noodwendig dadelik verlore wees vir sewesrugby nie, aangesien Saru se drome van Olimpiese roem oor vier jaar op hóm gevestig is.
Die wêreld se sewesspanne kwalifiseer aanstaande jaar vir 2016 se Spele in Rio de Janeiro, Brasilië.
Die kans dat Allister Coetzee betrek sal word, lyk egter ál minder waarskynlik met dié Stormers-breier se kontrak wat ’n tameletjie blyk te wees sou hy na die Springbokke wou skuif.
Wat die res van Meyer se afrigtingspan betref, het die nuwe Bok-breier en Saru se uitvoerende hoof, Jurie Roux, die afgelope week indringend in Pretoria vergader.
Meyer se wenslys is glo byna die hele Bulls- en Blou Bulle-afrigterskorps, met hul verdedigingsafrigter, John McFarland, hul kondisioneringsbreier, Basil Carzis, asook hul voorspelerafrigter, Johann van Graan, wat skynbaar in sy visier is.
Dié drie het egter almal kontrakte met die Blou Bulle Maatskappy (BBM) en Saru is nie heeltemal geneë om weer hul hande in hul sakke te steek nie. Die rugbybeheerliggaam moes reeds ’n paar honderdduisend rand vir Meyer se dienste betaal en Roux gaan glo vandeesweek samesprekings in dié verband voer met die BBM.
Konsultante gaan in die toekoms ook gereeld by die Bokke betrek word en Victor Matfield (lynstane) en Louis Koen (skopafrigter) is glo reeds geïdentifiseer as twee kenners wat saam met Meyer die Bokke weer die wêreld se beste moet maak.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24