Racing Metro vry glo na Bok-slot
2012-12-07 13:15
Kaapstad – Die Franse klubspan Racing Metro stel glo belang in die dienste van die Springbok- en Blou Bul-slot Juandré Kruger.
Die media in Frankryk het berig dat Racing se afrigter, Gonzalo Quesada, sy span wil versterk deur die 27-jarige na Parys te lok.
Die belangstelling in Kruger, wat in agt toetse vir die Springbokke gespeel het sedert sy debuut teen Engeland in Junie vanjaar, is deur die Bulle se uitvoerende hoof, Barend van Graan, bevestig.
"Ek is bewus dat hy tans met oorsese klubs gesels oor sy toekoms en ek weet ook van klubs wat in sy dienste belangstel," het van Graan aan die Rugby365-webtuiste gesê.
"Ek weet egter van niks wat gefinaliseer is nie."
Racing, wat 'n sukkelseisoen beleef en tans in die negende posisie van die Franse Top14-punteleer is, het onlangs die voormalige Springbok-stut Brian Mujati van die Engelse klub Northampton Saints gekontrakteer.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24