Pumas juig in Kimberley
2011-09-19 07:29
Kimberley – Iewers moes die gety draai en dit is presies wat Saterdag hier op GWK-park vir die Pumas gebeur het in hul Curriebeker-oorwinning van 34-31 oor Griekwas.
Die besoekers het nie net hul eerste sege van die seisoen behaal nie, maar hulle het enduit baklei om selfs met ’n bonuspunt vir vier drieë na Witbank terug te keer.
Dat hulle eers die sege vasgeknoop het nadat die plaasvervanger Carl Bezuidenhout in die laaste sekondes gaan druk het, sal Jimmy Stonehouse (afrigter) en sy rugbyspan min skeel.
Die vreugde van hul eerste oorwinning is daarvoor net te groot.
Hoewel die Pumas maar min van die speelwerk in die eerste helfte gedoen het, het hulle die Poubloues se lynstaanspel en eerstefase-besit erg ontwrig.
Die ontwrigting het na die Noord-Kapenaars se ander fasette oorgespoel en selfs individuele briljantheid deur spelbrekers was nie genoeg om dit teen te werk nie.
Die Pumas het die tweede helfte met hernieude ywer aangedurf nadat hulle rustyd met 9-7 as voorlopers gaan rus het.
Een drie ná die ander het gevolg en ondersteuners het teen die einde gedink die koeël is deur die kerk toe Griekwas se heelagter, Riaan Viljoen, in die 77ste minuut oënskynlik die wendrie gedruk het.
Maar van die daaropvolgende afskop af het die Pumas, met twee minute oor, diep gedelf om die oorwinning te behaal.
“Ons is ongelooflik bly,” het ’n sigbaar tevrede Stonehouse gesê.
“Alles het net vir ons begin reg loop.
“Die tempo van die wedstryd was ongelooflik. Ek dink wel Griekwas het ’n fout begaan om Riaan Viljoen nie van die begin af op losskakel te speel nie. Hy het hulle elke slag vandaar oor die voordeellyn gekry,” het Stonehouse gesê.
Die nederlaag teen die Pumas beteken dat die Poubloues voortaan al hul wedstryde moet wen om die uitkloprondes te haal – en dit sluit taai wegwedstryde teen die Haaie en die Vrystaat-Cheetahs in.
Puntemakers:
Pumas 34 (9): Drieë: Ricardo Croy, Hendrik van der Nest, Pellow van der Westhuizen, Carl Bezuidenhout. Doelskop: Carl Bezuidenhout. Strafdoele: Croy (3), Bezuidenhout.
Griekwas 31 (7): Drieë: Marnus Schoeman (2), Rocco Jansen, Riaan Viljoen. Doelskoppe: Earl Rose, Rudi Vogt (3). Strafdoel: Rose.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24