Pukke gee afrigter trekpas
2011-02-23 09:16
Johannesburg. – Rudy Joubert is Dinsdag as afrigter van die Pukke se rugbyspan gepos.
Dit volg nadat die Pukke hul eerste drie wedstryde in vanjaar se Varsitybeker-reeks verloor het.
Die Pukke en Luiperds se onder 21-afrigter, Hannes Esterhuizen, neem oor as afrigter.
Die res van Joubert se bestuurspan sal aanbly in hul poste.
Esterhuizen sal aan die stuur wees vir Maandag se wedstryd teen die Universiteit van Johannesburg.
Na verneem word, is daar besluit om Joubert voorlopig vir twee weke van sy pos as afrigter te onthef, waarna ’n besluit oor sy toekoms geneem sal word.
Hy het ’n kontrak van twee jaar met die Pukke en daar sal glo onderhandel word oor sy voortgesette deelname en in watter rol hy aangewend sal word by die Rugby-instituut.
Met Joubert as afrigter, het die Pukke verlede jaar vierde uit die agt spanne geëindig en vier van hul sewe wedstryde gewen.
Joubert was in 1995 een van die Bokke se tegniese adviseurs toe hulle die Wêreldbeker verower het.
Hy het Namibië afgerig toe dié land in 1999 die eerste keer aan die Wêreldbeker-toernooi deelgeneem het.
Hy het ook die Bulls, Boland en die Valke afgerig en was ’n jaar lank Cardiff se direkteur van rugby waar hy die Cardiff Blues afgerig het.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24