Prins Elton wys hy is die ware Leeu-koning
2011-10-30 07:19
Johannesburg - Die lang wag is verby vir die Leeus.
Ná 12 jaar is die Goue Beker terug in die Goudstad nadat die Leeus Saterdagaand hier gebrul het soos die maanhare wat hulle is.
Een-en-sestig jaar ná hulle laas ’n Curriebeker-eindstryd op hul tuisveld kon wen, het Josh Strauss en sy troepe die Haaie gisteraand met 42-16 afgemaai in ’n verpletterende sege oor die Durbaniete.
Die voggies in daai beker het lanklaas so soet gesmaak soos gisteraand.
Niemand sal kan stry dat die Leeus ’n waardige nuwe kampioen is nie. Hulle het die sterbelaaide Bok-agttal van die Haaie aangevat en selfs ore aangesit by die afbreekpunte, waar Derick Minnie skitterend was.
Dan het hulle verdedig soos Trojane en met die selfvertroue wat uit hulle gestraal het, het hulle ook op die aanval kat en muis met die kampioen gespeel terwyl sy uurglas leeggeloop het.
Elton Jantjies was die koelkop-generaal, met Doppies la Grange kolossaal in die middelveld.
Die belaaide atmosfeer wat daar voor die wedstryd geheers het, is oorgedra na die kragmeting self.
Die tuisspan het die telbord sommer al in die derde minuut aan die rol gekry toe Elton Jantjies die eerste van sy vier suksesvolle skoppe in die eerste helfte behaal het.
Twee minute later is die voorsprong verdubbel met Jaco Taute wat ’n monster-strafdoel van 58 meter sierlik oor die dwarslat laat seil het.
Die bal is met soveel gemak deur die pale dat dit self ’n hele entjie verder kon gewees het en steeds die afstand sou maak.
Die Haaie het ’n paar stewige lopies ingekry en veral met hul sterk voorspelers aangeval, maar daar was té veel angstigheid by die besoekers en telkens is fouteer.
Selfs met ’n oormaat balbesit kon hulle niks uitrig nie en is hulle etlike kere naby die doellyn gestuit. Die Leeus se verdedigend was besielend. Boonop het Franco van der Merwe by ’n geleentheid ’n Haaie-lynstaan vyf meter van sy eie doellyn gesteel.
Die Haaie het uiteindelik selfs die stryd om die doellyn oor te steek tydelik bes gegee en Frederic Michalak het met ’n skepskop laat waai, wat teen die dwarslat vas was.
Lawrence moes in ’n stadium strafskoppe soos lekkers op ’n Kerspartytjie uitdeel aan die Leeus en Jantjies het elke keer wanneer hy aangelê het pale toe, die telbord in beweging gekry.
Die enigste drie van die helfte is gedruk deur die vleuel Michael Killian wat deur Doppies la Grange gevoer is nadat hy deur ’n yslike gaping aan die steelkant is.
Die tuisspan moes die laaste tien minute van die eerste helfte sonder sy loskopstut CJ van der Linde speel, wat in die koelkas beland het ná ’n gevaarlike duikslag op Keegan Daniel.
Maar selfs met een speler minder het die Leeus die Haaie van hul doellyn gehou.
Die geweldige tempo is selfs verhoog in die tweede helfte, met Willem Alberts se omstrede drie, nadat hy die bal aangeslaan het, wat die Haaie teruggebring het in die prentjie.
Dit was egter nie vir lank nie, want Pat Cilliers het oorgebars om die gaping weer te help rek tot 13 punte.
Net om die versiersuiker op die koek te sit het Jaco Taute in die hoek gaan druk nadat Killian weer deur ’n yslike gaping in die middelveld is.
* Punte: Leeus 42 (19): Drieë: Michael Killian, Patric Cilliers, Jaco Taute. Doelskoppe: Elton Jantjies (3). Strafdoele: Jantjies (5). Jaco Taute. Skepdoel: Jantjies.
Haaie 16 (6): Drie: Willem Alberts. Doelskop: Frederic Michalak. Strafdoele: Frederic Michalak (3)
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
- Rapport