Pote, Abré kou naels oor Griekwas-pos
2011-10-27 11:13
Johannesburg – Griekwaland-Wes se Rugbyunie (GWRU) sal eers op 7 November aankondig wie sy Vodacombeker- en Curriebeker-spanne aanstaande seisoen gaan afrig.
Abré Minnie se kontrak as hoofafrigter verstryk ná die Curriebeker-reeks en sy hulpafrigter, Pote Human, was ook net vir dieselfde termyn gekontrakteer.
Arni van Rooyen, uitvoerende hoof van die GWRU, het gister aan Sport24 bevestig dat daar nog geen finale besluit oor die toekoms van Minnie of Human geneem is nie.
“Ons hou die week voor 7 November ’n direksievergadering waar ons oor die pad vorentoe sal besluit. Ons sal na die vergadering ’n aankondiging oor ons afrigtingspan doen,” het Van Rooyen gesê.
’n Besluit sal tydens die vergadering geneem word of slegs Human en Minnie in die wedloop is vir die vakante posisie as Griekwas se hoofafrigter.
Die direksie kan ook besluit om die pos weer te adverteer.
Maar volgens Sport24 se inligting kan GWRU se direksie eerder besluit om Human die hoofafrigter te maak met Minnie sy adjudant.
Minnie was Griekwas se hulpafrigter tot aan die einde van 2010 voordat Dawie Theron die pos as hoofafrigter van die Jong Bokkies aanvaar het. In Theron se afwesigheid is Minnie slegs vir 2011 tot hoofafrigter van die Vodacombeker- en Curriebeker-spanne bevorder.
Griekwas het vanjaar goeie vertonings in die Curriebeker-reeks gelewer deur grotes soos die Haaie, die Vrystaat-Cheetahs en die Blou Bulle te klop en Minnie het nie juis ’n voet verkeerd gesit nie.
Maar Human het groter ervaring as ’n hoofafrigter en dit tel in sy guns dat hy al ’n span soos die Blou Bulle in 2007 tot Curriebeker-glorie gebrei het.
Die veelsydige Griekwas-agterspeler, Rudi Vogt, is gister as Curriebeker-speler van die maand vir Oktober aangewys.
Vogt was een van Griekwas se staatmakers vanjaar en kan dié week met ’n plek in die Cheetahs se vergrote Super Rugbygroep beloon word.
Die Springbok-heelagter Riaan Viljoen se skuif na die Sharks vergroot Vogt, wat ’n betroubare stelskopper is, se kanse op insluiting.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Beeld