Polisie haal Percy en vrou oor kole
2009-10-12 15:23
Durban - Die polisie in KwaZulu-Natal het sy kommer uitgespreek oor gesinsgeweld-sake wat aangemeld en dan teruggetrek word.
Dít volg nadat die voormalige Springbok-heelagter, Percy Montgomery, se vrou, Tasmin, 'n klag van aanranding teen hom gemaak en later weer teruggetrek het.
"Ons verstaan dat dit 'n hoë-profiel-paartjie is, maar mense wat sake van gesinsgeweld aanmeld en weer terugtrek moet die tyd en die hulpbronne in ag neem wat gemors word," het kapt. Vincent Mdunge, 'n polisiewoordvoerder, gesê.
Tasmin het Vrydag die aanrandingsklag wat sy teen Montgomery gemaak het, teruggetrek.
'n Verklaring wat Vrydag deur die paartjie uitgereik is, het gesê die klag is "oorhaastig en in oorreaksie op ’n rusie tussen man en vrou, soos wat die meeste paartjies maar het," by die polisie ingedien.
Mdunge het gesê die polisie moet aan baie ernstige misdade aandag skenk en word in 'n moeilike posisie geplaas as mense 'n klag oorhaastig indien.
"Dit is tyd dat iets gedoen word aan mense wat misdade aanmeld en die sake terugtrek. Mense moet die staat vergoed vir die tyd en hulpbronne wat verlore gaan as 'n klag ingedien word."
Die voorval het glo verlede Sondag by Tasmin se ouers se woonstel in Umhlanga Rocks plaasgevind.
Hy het glo Tasmin se boud gedruk en haar met die vuis geslaan.
Montgomery het verlede Maandag in die Verulam-landdroshof verskyn en is aangekla vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Hy is vrygelaat op borgtog van R1 500.
– Sapa