Plum kan vurige pak kies
2011-10-13 09:30
Kaapstad – John Plumtree, afrigter van die Haaie, vergader eers vanoggend met sy Wêreldbeker-Springbokke om te hoor wie van hulle al Saterdag in die laaste ligawedstryd van vanjaar se Curriebeker-reeks teen die Goue Leeus in Durban ingespan kan word.
Van die Bokke het eers gister in Suid-Afrika aangekom en dit is onwaarskynlik dat van hulle al Saterdag sal kan speel.
Plumtree het gister gesê hy sal waarskynlik die meeste van sy Bokke speelkans vanaf die plaasvervangersbank gee. Diegene wat nie teen die Leeus speel nie, sal gewis vir aanstaande naweek se halfeindstryd oorweeg word.
Die Haaie moet allig ’n bonuspunt-oorwinning oor die Leeus behaal om seker te maak van ’n tuis-halfeindstryd.
Klop hulle die Leeus sonder om ’n bonuspunt te verdien en die Vrystaat-Cheetahs klop Griekwas met ’n bonuspunt, eindig hulle gelyk met 47 punte in die tweede plek. Maar die Cheetahs sal dan tuisvoordeel in die halfeindronde hê, danksy hul beter punteverskil.
Omdat die Leeus nie meer uit die eerste plek op die puntelys gelig kan word nie, het hulle van hul sleutelspelers laat rus vir die besoek aan Durban.
Plumtree sê hy steur hom nie juis aan wat die Leeus doen en met watter span hulle in Durban aankom nie.
“Dit sal nie ons beplanning beïnvloed nie. Ons het genoeg om op te fokus. Ons sukkel die hele seisoen met ons agttal, maar hopelik, met ’n paar van ons Bokke terug, sal dinge nou begin verander.
“Ons moet met ons baldraers oor die voordeellyn kom en ook sterker wees op die verdediging,” het Plumtree gesê.
Die breier het allig in hierdie opsig vir Willem Alberts, Bismarck du Plessis en Tendai (Beast) Mtawarira in gedagte gehad. Die haker Craig Burden en die agtsteman Ryan Kankowski is ook weer beskikbaar ná beserings en skielik het Plumtree al hoe meer keuses wat sy agttal betref.
Dit volg nadat hy vir die grootste deel van die seisoen moes raap en skraap om ’n agttal met ’n bietjie vuur in hom in te span.
“Ons is in die gelukkige posisie dat ons s’n die laaste ligawedstryd Saterdagaand is en dus presies sal weet wat ons te doen staan om seker te maak van ’n tuis-halfeind.”
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Die Burger