Pluimpies rol in vir Habana
2010-10-18 08:00
Kaapstad - Bryan Habana is vanjaar deur Springbok-ondersteuners uitgejou, maar sy spanmaats het nooit in sy vermoë as rugbyspeler getwyfel nie.
“As jy iemand se spanmaat is, is dit anders as iemand wat by die huis sit en brandewyn drink en boe. Bryan se rekord van 38 drieë in 66 toetse en die aantal drieë wat hy al op Super14-vlak gedruk het, spreek vanself,” sê die Westelike Provinsie se kaptein, Schalk Burger.
“Ek is seker dit was nie vir Bryan maklik om so behandel te word nie. Die tyd sal weer bewys hoe goed hy is. Ons het nog nooit in sy vermoë getwyfel nie.”
Habana was Saterdag op sy beste in die WP se sege van 31-7 in die Curriebeker-halfeindstryd oor die Vrystaat op Nuweland.
Hy het die eerste drie in die wedstryd gaan druk nadat Adriaan Fondse die bal by ’n losskrum gewen het.
Daarna het hy ook sy eie lugskoppie gevang en die bal na Gio Aplon uitgegee vir die drie wat die telling met 12 minute se speeltyd oor 31-0 vir die WP gemaak het.
Habana het in die vorige week se ligawedstryd teen die Haaie ook weer lus gelyk vir rugby nadat hy sowat ’n maand lank saam met ander gekontrakteerde Springbokke op ’n kondisioneringsprogram was.
Dit het gekom ná ’n nagmerrie van ’n Drienasies-reeks waarin Habana in ’n swak Bok-span selfs gesukkel het met basiese vaardighede soos om die bal te vang.
Die WP se breier, Allister Coetzee, het die spelbreker geloof vir sy rol in die sege.
“Dis goed om Bryan weer so te sien afrond. Klas is permanent,” sê Coetzee.
Hy glo die blaaskans van ’n maand was sielkundig goed vir Habana.
“Bryan kon weer rustig raak en met die mense na aan hom oor ander dinge praat,” sê Coetzee.
“Dis belangrik om af te skakel en kritiek te kan verwerk. As jy alles persoonlik opneem, sal dit jou benadeel.”
Coetzee het sy span vir “’n afgeronde vertoning” geloof, maar ook genoem hoe goed die agterlyn gevaar het om die Vrystaat se verdediging te klop.
“Ons moes die Vrystaat se opskietverdediging hanteer. Die agterspelers het goed gedoen om die bal te hou en uiteindelik ruimte te skep. Ons het ’n paar uitstekende drieë gedruk.”
In die proses het een van Suid-Afrikaanse rugby se groot helde sy beste spelpeil herwin.
Habana is Saterdagaand ook in ’n voorlopige Springbok-oefengroep ingesluit, wat daarop dui dat hy deel van die planne vir aanstaande maand se toer na Brittanje en Ierland is.
Hy sal daar probeer om die alleenhouer van die rekord vir die meeste toetsdrieë vir Suid-Afrika te word. Habana en die oud-skrumskakel Joost van der Westhuizen is die gesamentlik rekordhouers met 38 drieë.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg